Ek het besluit om nie weer hierdie pad in Noord Kenya te ry nie, maar om eerder die motorfiets op ‘n trok te sien. Die rowwe paaie en omstandighede die laaste tyd het sy tol op my en my motorfiets geeis. Niemand het teen hierdie besluit kapsie aangeteken nie.
Ben, 'n Britse fietsryer wat ek in Ethiopie ontmoet het, het die trokrit saam my onderneem en was goeie geselskap.
Ek is altyd van mening dat toeristewaarskuwings oordrewe is. Hier was dit nie die geval nie, selfs ons lokale trok het 5 gewapende soldate saamgery! Ek neem aan die gevaar raak minder soos ons suid ry, want die soldate het stelselmatig verminder tot net een oorgebly het. Behalwe vir die feit dat ek heeltyd in die loop van 'n masjiengeweer moes vaskyk het ek glad nie onrustig gevoel nie. Een ding moet jy wel nie doen nie en dit is om saam 'n beestrok te ry. In hierdie geweste is beeste soos kontant in transito!!!
Die rit was nie maanskyn en rose nie, maar ten minste hoef ek nie bestuur het nie.
Ons trok was so vol dat ek en Ben bo-op die tralies moes sit. Hulle span toue tussen die tralies dan kan jy daarop sit, my tou het losgegaan toe val ek amper op die mense onder my se koppe. Jy moet mooi vashou anders val jy af, maar die trok ry so stadig dat jy jou ook nie sal doodval nie. Die uitsig was asemrowend!
Het jy nie ook in Aardrykskunde geleer dat die ewenaar tropies is nie?
Hierdie 2 fotos is net 250km noord van die ewenaar geneem.
Vir die eerste 12 ure (250km) tot op Marsabit het ek ‘n rolstoel se wiel in my rug gehad, ek moes dus gebukkend sit sodat die ding my nie heeltyd teen die rug kap nie. Ek het aan die verlamde persoon op die trok gedink en besef dat ek bevoorreg is om net vir 12 ure met die rolstoel opgeskeep te sit.
Gelukkig het daar op Marsabit heelwat mense afgeklim en ons kon sitplek onderin die trok kry. Ek en Ben het soos konings heelagter in die trok op graansakke gelê. Daar was ‘n goeie rede hoekom daardie hele stuk oop was, dis agter die agteras en is die plek waar dit die meeste skud. Ons het dit gou agter gekom, maar ons was net bly om ‘n plek te hê waar jy kan slaap sonder om van die trok af te val. Teen die tyd was ons so moeg dat jy ten spyte van die stampery aan die slaap raak. As die trok deur 'n groot gat ry word jy sommer heeltemaal die lug ingeskiet; iets wat nie my laerug en niere gehelp het nie.
Ben by sy fiets teen 3:00AM.
Teen 6:00 die oggend was my rug te seer en dit voel skoon of my niere bloei, ek het weer bo gaan sit, net betyds vir die mooiste sonsopkoms. As een van die eerstes wat weer bo gaan sit het, het ek ‘n goeie sitplek gekry en het myself verbeel ek is op ‘n Safari.
Ons kaartjies was geldig tot in Nairobi, maar toe ons die teerpad in Isiolo tref het my niere geskree: "KLIM AF, KLIM AF!!!". Die 505km rit het ons ‘n totaal van 26uur geneem. Dit was 'n lang trokrit, maar dit was wel lekker om nie bekommerd te wees dat die motorfiets enige oomblik gaan breek of dat ek weer gaan val nie.
Dit was so lekker om in Kenya te wees, dit het soos ‘n eerste wêreldse land gevoel!
In Nairobi het ek by Jungle Junction vertoef, dit is die plek waar al die 'overlanders' aangaan. Die rede is omdat hier 'n lekker werkswinkel is waar jy gereedskap kan leen. (Met overlanders bedoel ek mense wat langafstand reise met hul eie voertuie doen, nie die groepe in die Overland trokke nie.)
Ek het bietjie welverdiende aandag aan my motorfiets gegee.
Die algehele wenner is Manon op haar Deutz trekker.
Sy ry van Holland na Kaapstad, van daar beplan sy om ‘n boot na Antarktika te vat en dan na die suidpool te loop. Sy versamel wense op haar reis wat sy dan in Antarktika, die enigste kontinent waar nog altyd vrede was, wil gaan strooi.
Haar webblad is www.tractortractor.org
1 comment:
Hi Danie, ek verneem via vriende van jou broer Gerrit Olivier van jou trip deur Afrika. Wonderlik dat jy dit onderneem het. Ek verstaan jy werk nou by Investec in London. Ek werk ook in London naby Canary Wharf. Miskien kan jy my alles oor jou toer vertel oor 'n koppie koffie? Skype my op zimolala as jy wil. Groete. Zx
Post a Comment