Voor my vertrek uit Addis Ababa na die suide stuur ek al my fotos na SA. My grootste kans om beroof te word is in Noord Kenya.
Die reis begin teen hierdie tyd soms gereeld 'n weermagkamp voel. Ek is nou vir 2 maande alleen op die pad en begin wonder of ek nog al my varkies het, almal het verskillende stemme in hul kop, maar myne het nou name gekry. Daar is 3 prominente karakters. Dis die troep, hy is die ou wat al die werk doen, hy het ‘n harde tyd en het geen sê oor die besluitneming nie. Dan is daar die Korporaal, hy het net een doel voor oë en dit is om te verseker dat die troep ‘n harde tyd het, dis die massogistiese kant. Laastens is daar gelukkig die Generaal, hy is ‘n strateeg en hou die Korporaal in toom om seker te maak almal bly darem aan die lewe. Ek dink hy is meestal aan die slaap, want die Korporaal regeer oor die algemeen alleen. Die Korporaal het ook ’n goeie doel, sonder hom sou die troep ‘n baie makliker en vervelige roete gevolg het. Hy hou dus alles interessant, maar dit beteken nie ek hou van hom nie.
Die Korporaal het besluit dat daar eers 'n sirkelroete in die Suid Omo vallei gemaak gaan word. Die pad in die Omo vallei en Noord Kenya stuk beteken weer meer as 'n 1000km se slegte grondpad. Die troep is hoegenaamd nie lus hiervoor nie, maar die Korporaal is nie oop vir onderhandeling nie. Ek sien sommer hoe my rug met betogingsbordjies appèl aanteken. Die korporaal se argument vir die Omo vallei is dat dit 'n afgesonderde deel in Ethiopie is waar jy etniese groepe kan raakloop wat nie meer vir baie jare gaan bestaan nie. Die gebied is so afgesonderd dat die mense in Omo 50 jaar terug nie eers bewus was dat daar 'n entiteit soos Ethiopie bestaan nie. Daar is meer as 20 stamme in die gebied, sommige bestaan uit tien duisende ander so min as 500 mense. Almal is uniek in kultuur en taal.
Langtand begin ek die pad suid aanpak vanuit Addis Ababa. Op hierdie pad word ek baie met klippe gegooi, ek dink dis omdat ek nie vir die mense waai nie. Ek is nie lus nie, die mense sit my af, maar ek besef ek moet my ingesteldheid verander.
Op Arba Minch stop ek vir 'n ete by 'n restaurant. Na die tyd vra die kelner my ‘n belaglike prys. Teen die tyd het ek ‘n gevoel vir die pryse, dit lei natuurlik tot ‘n groot geredekabel wat net ‘n slegte smaak aan die ondervinding gee. Dis algemeen bekend dat baie mense ‘n 'Faranji price' vra. Dit is ‘n prys vir westerlinge en kan soms belaglik raak. Ek het mense ontmoet wat ‘n rekening van US$200 vir ‘n paar koppies koffie gekry het. Ek was moeg vir die uitbuiting en het net ‘n redelike bedrag op die tafel gesit en die pad gevat.
Dit raak laat en ek slaap oor in Arba Minch. Ek kry 'n kampplek langs die meer met 'n goeie uitsig. (Let weereens op na die kleur van die water) Ek het ook 'n goeie uitsig oor die dorp en met sonsondergang val dit my op dat die dorp se liggies skielik vir my mooi lyk. Ek onthou as plaasseun hoe mooi die liggies van die stad altyd vir my was as ons in die nag Pretoria binne gery het. Met die jare wat ek in die stad gewoon het, het die liggies vir my al leliker geraak. Nou dat ek vir ‘n ruk uit die stad is, raak die liggies weer mooi. Mens kan darem nooit tevrede wees met dit waarmee jy elke dag in aanraking kom nie. Langs die pad ontmoet ek 'n Duitser met 'n baie goed toegeruste trok, as jy in hierdie geweste 'n ander Overlander raakloop stop jy eers en gesels 'n bietjie.
Dit raak skielik baie droër soos ek die Omo vallei binnery.
Die Omo vallei is aan die ander kant van die berg in die linkerhand.
Op hierdie pad word ek by 'n padblokkade gestop. Die polisieman is agressief en soek een of ander dokument. As 'n Polisieman so krities deur jou papiere gaan is daar net een ding waarna hy opsoek is en dit is nie in daardie papiere nie, maar omkoopgeld. Ek het nog nooit iemand omgekoop nie en is ook nie van plan om dit te doen nie. Gewoonlik kry geduld jou daaruit, maar vandag is nie die regte dag daarvoor nie. Ek merk op dat hy nie 'n geweer by hom het nie en dat daar 'n klein gaping in die hek is. Toe hy omdraai om na my nommerplaat te kyk, laat ek al 85 perre op daardie stofpad los, ek sien in my truspieëltjie hoe hy skree en kleiner raak. Ek hoop maar hy het nie 'n radio om Polisie verder op my pad te laat weet nie.
Eerste tradisionele vrou:
Alhoewel hier nie baie toeriste kom nie, kan jy nogstees nie 'n foto neem sonder om te betaal nie. Hier is ek nie daarteen is nie. Die mense is arm en fotos van hulself is 'n bemarkbare kommoditeit, ek sou ook geld gevra het daarvoor. Teen Birr1-2 is hulle nie onredelik nie, dis net gewoonlik moelik om mekaar te verstaan en ‘n ooreenkoms te bereik. Sommige van die mense is ook vol nonsens oor hoe die geld lyk. Ek was eers ontsteld hieroor, want wat maak dit nou saak hoe die geld lyk. Toe ek besef dat hulle nog nie die monetêre stelsel mooi verstaan nie, maar ook ‘n waarde heg aan hoe die geld fisies lyk het dit my siening verander. Daar word dus meer waarde geheg aan ‘n mooi skoon Birr1 noot as ‘n vuil een.
Let Wel: Al die fotos in hierdie skrywe is geneem van mense wat besig is met hulle normale lewenstake. Die meeste is langs die pad geneem, niemand is spesiaal aangetrek vir toeriste nie.
Hierdie is Hamer vrouens, daar is ongeveer 35000 Hamers en hulle woon in die suidooste van die Omo vallei. Wat ek kon aflei is dat hulle sorghum in die bokvelhouer gooi en dit fyn maak met 'n stok.
Ek het ook hier vir die eerste keer veilig genoeg gevoel om 'n gewapende beeswagter af te neem. Hierdie is standaarduitrusting. Ons het vasgesit oor die prys na die tyd, as ek hom die geld wil gee het hy my heeltyd ‘n vuis gewys met sy duim wat deur sy middel en wysvinger steek. In Suid Afrika is dit ‘n lelike teken, maar dit kon dalk ook beteken dat hy Birr 5 soek, ek weet nie presies wat hy bedoel het nie.
Hierdie vrouens is by dieselfde plek afgeneem as die beeswagter. Terwyl ek hulle afneem hoor ek hoe die beeswagter agter my rug die AK oorhaal. Dis nie 'n geluid wat jy met iets anders kan verwar nie, alle aanvalsgewere het so harde slag waarmee hy die patroon in die kamer inslaan. Ek het my self boeglam geskrik, gelukkig was hy toe net besig om die geweer skoon te maak.
Na 'n lang dag se ry kry ek darem 'n lekker plekkie om te slaap.
Hier gekom sien ek dat my begroting te klein is en ek te min Birr (Ethiopiese geld) het. Die Korporaal trek net sy skouers op, dis nie sy werk om vir ‘n troep te begroot nie. So in die middel van niks kan die kamplek vra wat hulle wil en ‘n maaltyd kos ‘n arm en ‘n been, ek bestel toe net brood. Die kok was ‘n vriendelike man, hy het geweier om my net brood te gee en het my skelm kos gegee. Ek het sleg gevoel en wou darem iets betaal, maar hy sê net heeltyd, “don’t worry, I gift”. Dit is ondervindinge soos hierdie wat mens weer aarde toe bring.
Dit is vandag 'n markdag in Turmi, hier is fotos van mense oppad daarna en in die mark self.
Sodra Hamer vrouens trou dra hulle 'n ring om hul nek, ek kan nie anders as om die simboliek van 'n ketting daarin te sien nie.
Die vrou hieronder het letsels op haar rug, dit is heel waarskynlik haar man of haar broers se handewerk. Die Hamer het ‘n Bul Spring Seremonie elke jaar, dis ‘n inisiasie ritueel waar daar tot 30 bulle in ‘n ry staangemaak word. Die seuns wat geinisieer word moet dan van die een bul tot die ander spring. Die ry word ‘n paar keer voltooi tot die skare tevrede is. Sodra hy hiermee klaar is slaan hy sy susters op hulle rue totdat hulle bloei en die letsels vir die res van hul lewens sal dra. Die susters sien dit as ‘n eer om vir hulle broers in te staan vir die seremoniele marteling.
Hier kry ek twee seuns besig om poedelnakend kaal in die pad af te stap.
As jy as ‘n preutse Afrikanertiener ‘n paar jaar gelede hierdeur moes ry sou jou ma jou oë toedruk. Die borste hier het nie sterretjies op soos die Scope van ‘n dekade gelede nie.
Ek het die pad Jinka toe teen so net oor die 20km/h afgelê. Hier het ek bietjie gerus langs die pad.
'n Paar seuns op stilte net voor Jinka
Net na ek in Jinka aangekom het begin dit reën, ek wou die volgende dag na die Mursi mense in die Mago Nasionale park gegaan het. Die gode was nie met my nie, want teen die volgende oggend is die paaie glad. Alhoewel my gidsboek waarsku teen toer in die gebied op nat paaie redeneer die Korporaal dat dit lanklaas gereën het en die grond dus nog nie versadig behoort te wees nie. Ek was nog nie by die dorpie uit nie toe gryp die Generaal gelukkig in en sê, ‘nee manne draai om’. Ek was vrek bly.
Om by Mago uit te kom moet jy ‘n berg oorsteek, dis ‘n 140km stuk pad wat deur die gidsboek as gangbaar teen ‘n gemiddeld van 18km/h aangewys word wanneer droog. Wanneer nat, is dit ‘n 140km modderbad met 80km bergpas wat volgens alle voorspelling totaal onbegaanbaar is. Ek was ongelukkig, want hier is dit nou eintlik droë seisoen, dis nie soos Noord Ethiopie waar ek reën verwag het nie. Die hele weermag se moraal was maar laag toe ek weer vroegoggend die kamp binnery. Ek wou nie erken nie, maar ek het die rus nodig gehad.
Mursi:
Die Mursis is bekend vir hulle tradisie om ‘n piering in die onderlippe van die vrouens te sit. Jinka is die naaste dorpie aan die Mago Nasionale park waar die Mursi stam hulself bevind.
More oggend, Saterdag 5 Augustus, is daar ‘n mark hier in Jinka. Ek was gelukkig om te sien dat daar Mursi mense mark toe gekom het. Daar is ongeveer 5000 Mursi stamlede, hulle is grootliks bekend vir die feit dat hulle die dogters se onderlippe sny teen die ouderdom van ongeveer 20. Die gaping word dan geleidelik gerek totdat hulle ‘n lipplaat van tot 20cm deursnee daarin kan sit, die vrouens kan soms selfs hulle onderlip oor haar kop trek.
Die werklike rede vir die tradisie is onduidelik, een verduideliking is dat dit begin is om die vrouens onaantreklik te laat lyk sodat hulle nie gevang word deur die slawehandelaars nie. ‘n Mursi vrou sonder ‘n lipplaat is nie ‘n mooi gesig nie en ek kan dus meriete hierin plaas.
Antropologiese Museum:
In Jinka het ek na die Antropologiese Museum toe gegaan. Dit dra baie inligting oor die stamme van die gebied.
In die museum is daar ‘n ‘Scars that tell a tale’ afdeling waar die letsels van individue se stories vertel word.
‘n Hamer man vertel dat hy iemand van ‘n ander stam doodgemaak het en toe met die jubellied huistoe gegaan het, waarna hy die seremoniele snymerke gekry.
‘n Vrou vertel dat sy een aand nie tabak vir haar man gehad het toe hy by die huis gekom het nie. Die volgende dag het hy haar veld toe gevat, haar hande en voete om ‘n boom vasgemaak en haar met ‘n sweep geslaan. Sy voeg ook by dat dit goed is, want sy het nou geleer en het nou elke aand vir hom tabak, sy sê ook dat die sweep soos ‘n meulsteen is wat haar slyp sodat sy en haar man beter by mekaar pas. Sy vertel dat die ouer mense mekaar nie meer fisies slaan nie, maar dit met die monde doen.
Ek raak koud toe ek dit lees, met my Westerse uitkyk was ek heeltyd onder die indruk dat dit barbaars is dat die mans hulle vrouens so slaan. Ek het meteens besef dat ons in die Westerse kulture mekaar ook slaan, maar met die monde. Sou dit nie beter sou wees as ons mekaar eerder ook met swepe geslaan het nie? Die wonde sou ten minste meer sigbaar wees, sielkundige letsels sny soveel dieper.
Die vrouens het ‘n harde tyd, hulle maak kos, maal die graan, gaan haal water en hout, maak die kinders groot en hou die huishouding aan die gang. Die mans pas die beeste op en dit word gewoonlik deur die seuns gedoen, waar toepaslik plant hulle darem ook bietjie graan. Ek sien hoe ‘n vrou met ‘n babatjie op die rug ‘n heining om die werf bou terwyl die man onder die boom sit en slaap. Ek sien hoe ‘n vrou met ‘n bos hout so groot soos my motorfiets in die pad stap terwyl haar man langsaan met leë hande stap. Ek sien hoe vrouens in die stedelike gebiede hulle lywe verkoop om die gesin aan die gang te hou terwyl die mans in kroeë sit. Ek begin verstaan hoekom vrouens veelwyfery verwelkom, want dit bring darem meer hande wat kan help.
Dit bring my tot die gevolgrekking dat gebiede soos hierdie ‘n beter plek sou wees as hulle eerder die mans die see injaag en kunsmatige insiminasie vir voortplanting gebruik. Maar dan lees ek ‘n artikel soos “what does it take to be a smart women” en ek besef dat ek ongegronde gevolgtekkinge maak, omdat ek hierdie kulture vanuit die verkeerde hoek benader. Dit maak nie saak hoeveel jy van ‘n kultuur leer nie, jy kan dit nie verstaan nie, omdat jy altyd vanuit die verwysingsraamwerk van jou eie kultuur kyk. Die mees arogante fout wat jy kan maak is om te dink jy is so ‘openminded’ dat jy ‘n ander kultuur volkome verstaan.
In die bogenoemde artikel vertel die vrouens dat ‘n slim vrou altyd sorg dat die kos reg is vir haar man ensovoorts, dat hulle die take met trots uitvoer en hul mans eerbaar dien. Of jy daarmee saamstem is nie die punt nie, die punt is dat hulle daarmee saamstem en dit nie vir jou is om te oordeel nie. Die enigste definitief negatiewe deel is die prostitusie en dit kom meer in die gebiede voor waar die kulture vermeng is met Westerse kulture. Dit is ervarings soos hierdie wat my skepties maak oor Westerse ‘opheffings programme’ in Afrika. Mens wil so maklik afdelings van ‘n kultuur wat teenstrydig met jou eie is verwyder. Al is die verandering regtig positief is dit nogsteeds moeilik om in ag te neem hoe dit die ekwilibrium van die huidige kultuur se normes en waardes kan versteur.
Bewaring van etniese kulture:
As Westerlinge wil mens graag hê dat etniese kulture soos die van die Mursi en Hamer in die Omo vallei of die Boesmans in Suid Arika bewaar moet word. Mens koppel gewoonlik ‘n positiewe konnektasie aan bewaring, soos dat dit goed is om die Fauna & Flora vir die volgende geslag te bewaar. Dieselfde kan nie gesê word van die bewaring van kulture nie, ... tensy jy die mense as Fauna ag. Die enigste rede hoekom mens as Westerling sou wou hê dat die etniese kultuur bewaar word is uit selfsugtigheid, sodat jou kinders ook eendag uit hul gemaklike huise hierna kan kom en ‘n paar kiekies neem. Is dit tot voordeel van die mense? Niemand besoek Mago Nationale park vir die diere of natuurskoon nie, hulle besoek dit vir die Mursis.
Mens stel soms dubbelstandaarde. Waar die kultuur nie etnies interessant is nie wil ons opheffingswerk doen, dan pla dit jou nie om die dele van die kultuur waarmee jy nie saamstem nie te verander. Daar waar die kultuur interessant is, wil ons dit net so los en bewaar.
Die tyd vir geisoleerde kulture is verby en daar is niks fout as etniese kulture beinvloed word met ander kulture nie. Soos Westerse kulture verander en groei gebeur dieselfde met etniese kulture, dit is ‘n normale proses wat die mense help om aan te pas by ‘n veranderende wêreld, dis iets waarteen niemand kan skop nie.
6 Aug Ontsnap uit die Suid Omo vallei:
Teen Vrydag 4 Augustus het ek begin siek raak in Jinka, Saterdag met die mark in die dorp het ek myself daarna gesleep om fotos te neem. As jy sleg voel is die mark nie die regte plek vir jou nie, maar ek het so ver gery om die Mursis te sien dat ek myself gedwing het. Ek weet nie mooi wat is fout nie, maar in die omstandighede waarin ek leef is ek verbaas dat ek nie heelwat meer siek raak nie. Ek is naar, het ontsettende lyfseer, veral in my laerug en my koors bly te laag. Ek lees my mediese handleiding, maar daar is hordes siektes met griepverwante simptome en ek weet nie mooi wat om te doen nie.
Vanaf die namiddag begin dit weer baie reën en dit hou aan regdeur die nag. Teen die volgende oggend voel ek nog slegter, maar ek besef ook dat die reën my al dieper in die moeilikheid inbring. Soos dit aanhou gaan die paaie uit die Omo vallei ook onbegaanbaar raak en ek kan vir weke hier vasgevang wees. Ek is in ‘n afgeleë gebied sonder selfoon ontvangs en het gevoel dat ek moet probeer om myself tot nader aan beskawing te ry. Al ry ek net totdat ek selfoon ontvangs kry, dan kan ek darem ‘n mediese ontruiming reël, indien nodig. Ek gaan weer deur die prosedure vir ‘n mediese ontruiming in my polispapiere. Ek kry gemoedsrus in die feit dat ek al ‘n ontruiming vir ‘n vriend van my gereël het toe ‘n vorige toer van ons skeef geloop het, maar om dit vir jouself te reël terwyl jy nie by jou volle sinne is nie gaan moeilik wees en maak my weer onrustig.
Sondagoggend val ek in die pad, ek is nogsteeds naar en kon net ‘n sny brood eet. My laerug is te seer om die gestampery te vat en ek het vir my ‘n ‘kidneybelt’ geprakseer. (Dit was ‘n groot fout om nie van die begin af met een te ry nie.) Ek het my sarong om my gordel met ‘duct tape’ vasgemaak en dit styf om my laerug vasgebind vir ondersteuning.
Om uit die tent te kom en op die pad te wees tel jouself sielkundig op, maar dit was van korte duur. Die Korporaal is uit die prentjie, dis nou nie meer speletjies nie, maar oorlewing. Ek moet hier uit kom.
Ek staan letterlik en ry die hele pad, sodra ek sit skiet die vibrasies soos naalde in my rug op. Die voetstukke is net ‘n duim breed en maak jou voete dood, maar dis beter as om te sit. Ek ry en ry en ry, jy word soos ‘n masjien wat net instinktief aangaan terwyl dit voel asof jou brein afskakel. As jy nie kopuit trek in ‘n strawwe wedren nie, of as jy aanhou ry terwyl jy ‘n rugsteunspan het beteken dit jy het nog beheer oor die situasie. In my geval het ek lankal beheer verloor, maar daar is net geen ander opsie as om aan te hou nie.
Ek word deur ‘n rivier gestop, hy is in vloed en lyk baie sterk. My moed sak tot in my skoene, ek het nie krag hiervoor ook nog nie.
Die water is net tot by my knieë, maar die stroom is hopeloos te sterk, ek kon nie heeltemaal deurstap nie.
Ek het myself gereed gemaak om hier te slaap, maar ek was gelukkig, want na skaars 3 ure het hy heelwat vlakker geloop en ek kon oorsteek. Ek het gelukkig ‘n hele skare mense gehad wat gehelp het om die motorfiets vas te hou sodat die stroom my nie meesleep nie.
Hierna begin dit weer verwoed reën en ek is deurdrenk met water. Die modder is so glad dat ek in eerste rat teen ‘idle’ ry. Met die langdurige inspanning en koue kry jy krampe in jou lyf. Die pad voel oneindig lank en skielik gooi die modder my 90º na links, ek kom tot stilstand sonder om te val, ek is oneindig dankbaar daarvoor, want ek weet nie of ek weer die motorfiets sou opgetel het nie. Ek kyk na my GPS en sien dat ek al 30km gevorder het sedert die rivier, dis omtrent 2ure se ry en ek kan nie veel daarvan onthou nie. Dis asof ek geslaap het en iemand anders bestuur het.
Bietjie later voel ek daardie, reeds bekende, gevoel van die voorwiel wat swik. Dis die gevoel van die voorwiel wat verstop is met modder. Ek het vroër die modderskerm teruggesit met die gedagte dat ek nie weer modder sal kry nie. Ek het nie krag gehad om dit af te haal nie en dit met ‘n stok skoon gekrap, dit was gelukkig net 4 keer nodig.
Behalwe vir die feit dat ek siek is, is ek sielkundig op ‘n laagtepunt. Ek is nie gewoond hieraan nie, ek het my al telkemale tot my fisiese limiete gedruk, byvoorbeeld daardie punt waar jy so moeg is dat jy begin visie verloor. Maar die laaste tyd het my nou sielkundig ook afgetakel, dis net al die faktore saam en die vooruitsig dat dit nie gou gaan beter raak nie wat jou sielkundig begin vang. Ek was fisies, maar meer psigies teen die grond en moet erken dat daar met tye trane uit my valhelm geloop het. Dis wonderlik om te sien hoe jou oorlewingsinstinkte inskop sodra jy voel jy kan regtig nie meer nie. Dis kompleet asof jy alle verantwoordelikheid oorhandig aan iemand anders en hy jou verder dra. Dis ‘n verligting en jy voel soms soos ‘n derde persoon wat vanuit ‘n afstand na die situasie kyk sonder dat dit enige fisiese inspanning vereis.
Ek het met sononder in Konso aangekom, ek was vrek moeg en het by die duurste hotel in die dorp ingeboek. Dit was so net onder R80, maar nie die geld werd nie. Die bedvlooie het my opgeëet en ek moes weereens my hemp oor my neus draai om die toilet binne te kan gaan, anders sou ek letterlik opgooi.
Gelukkig het ek gesien dat die skoonmaker ook haar serp om haar neus draai, toe voel ek darem minder vol nonsens. Ek was so moeg en het aan die slaap geraak terwyl ek gewag het vir my kos, gelukkig kon ek eet.
Die volgende oggend val ek weer in die pad. My klere was nogsteeds papnat, maar die gedagte dat die reën minder behoort te raak teen die Kenya grens het my motiveer. Die pad was relatief goed en het net klein stroompies gehad, ek kon so 30-40km/h handhaaf tot ek die teerpad gekry het, waarna alles goed gegaan het.
Terugblik op Omo Vallei pad:
Jy is van jou looitjie getik om dit in die reënseisoen aan te pak. Dit is wel nie wat ek gedoen het nie, ek het in die droë seisoen ingegaan, maar sonder om te besef hoe die paaie op reën reageer. Ek het ook die fout gemaak om net op statistiese data staat te maak en nie na weërvoorspellings te kyk nie. Hierdie keer het ek my in ‘n situasie ingekry wat ek sou vermy het as ek geweet het wat dit behels.
Later het ek gehoor dat die reën aangehou het, dat die Omo vallei tot ‘n rampgebied verklaar is en dat 364 mense in die vloede verdrink het. Dit het my darem gerus gestel oor my besluit om so vinnig as moontlik uit die gebied te kom ten spyte van die feit dat ek siek was.
Ek haal ‘n stuk aan uit die verslag van die Verenigde Nasies:
“floods in South Omo Valley have killed 364 people and approximately
6000 - 10,000 have been displaced ...The area is inaccessible by road. The response is difficult due to the remoteness of the area affected...”
Ek is iemand wat myself tot my limiete druk net sodat ek later die gevoel van bevrediging kan ervaar, maar hierdie keer het ek amper my hand oorspeel.
Op die Kenya grens aangekom staan ek voor die besluit of ek die berugte pad in Noord Kenya gaan ry en of ek die motorfiets op ‘n trok gaan sit... ...
Friday, September 01, 2006
2 Aug Ethiopie: Etniese groepe in Suid Omo Vallei
Posted by Danie Olivier at 9/01/2006 09:00:00 am
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Hey Danie - Lekker om van jou wedervaringe te lees, en gedeeltelik jou emosies te ervaar.
Dit is MONSTER ondervindinge en ek is verbaas dat jy nog heel is en ongedeerd. Ons dink aan jou en geniet dit om alles te lees, sukkel bietjie om die 'links' se orde te behou, miskien moet jy 'n indeks bladsy maak.
Ons het jou in NACALA, Moz ontmoet, saam met Diedrich en Jolien. Sterkte, kom kuier as jy terug is.
Post a Comment