Saturday, July 29, 2006

25 Jul Ethiopie: Lalibella terug na Addis Ababba


Na drie dae in Lalibella vertrek ek na Bahir Dar.
Dit is my omdraaipunt, ek het dan so 10500km afgelê. Dit beteken dat ek dalk onder 22000km by die huis sal wees. Met die gedagte van die halfpadmerk in my kop raak ek sommer opgewonde, minwetend van wat vir my voorlê.

Ek vertrek 7:00, dis bietjie mistig, maar die dag begin goed. Ek het 'n 250km grondpad voordat ek weer teer slaan.

Na so 60km raak dit modder en baie daarvan.
Later teen 'n bergpas gly ek so dat ek kardiovaskuler te moeg is om verder te ry. Toe ek van my motorfiets afklim kom ek agter daar het soveel modder op die voorwiel aangepak dat dit teen die modderskerm skuur. Ek is verbaas dat ek sover gekom het.
Ek maak die wiel skoon maar ry skaars 20m dan is hy weer verstop. Ek ry nou 6 uur aan 130km, dit reën amper heeltyd, ek is deurdrenk met water en koud. Ek is moeg en weet nie hoe ek hierdie pas uitgery gaan kry nie. Dis tye soos die wat mens wonder wat jou besiel om jouself in die situasie te kry, jy moe ook aktief daaraan werk om jouself positief te hou. Mens se brein is kragtig, ek praat met myself en my motorfiets soos ek met 'n spanmaat sou praat in 'n strawwe wedren wat wil kop uittrek.

Nadat ek die modderskerm 3 keer skoon gemaak het besluit ek om dit eerder af te haal. Maar alles is vuil en vol modder. Ek stel 2 handlangers aan om my te help. Dis nie 'n probleem nie, daar is so 25 kinders om my. My handlangers dra water aan om die dele waar ek werk te was asook my gereedskap. In hierdie modder moet ek so klinies soos 'n dokter in 'n teater werk om seker te maak daar kom nie modder op die draad van enige boute nie. 'n Klein seuntjie het besluit dis sy werk om die stuurwiel reguit te hou en hy doen dit met oorgawe.
Na 'n halfuur is ek weer reg om te ry, maar behalwe van die paaie, reën en modder begin Ethiopie nou aan my psige werk.

Die mense van Ethiopie
Ek het nog nie vertel hoekom Ethiopie die roquefort van kaaslande is nie. ....mmm, waar begin ek. Daar is 2 tekens van die biljoene wat die internasionale hulporganisasies in Ethiopie ingepomp het. Een is die regeringsamptenare wat in Landcruisers rondry. Twee is almal, letterlik almal, bedel. Jy kan nerens stop sonder 'n klomp mense wat na jou storm en skree, 'faranji, money, money, money!!!' Of 'you, money, money, money!' Wat dit nog erger maak is die feit dat Ethiopie baie dig bevolk is. Jy kan dus nerens, maar nerens stop om water te drink en net bietjie te rus sonder 'n skare mense wat bedel nie.

Aan die begin kan dit gaan, maar dit kou jou na 'n tyd. Jy het geen privaatheid nie en die mense se persoonlike spasie is ook baie klein. Ek sal dus soms letterlik rondgedruk word op die motorfiets as ek iewers stop. Mense loer oor jou skouer as jy 'n tas oopmaak, ens. Jy raak later baie ongeskik en moet elke keer wanneer jy stop die 'reset'-knoppie in jou kop druk om te keer dat jy nie die volgende bedelaar verwurg nie. Die mense bedel hier, nie omdat hulle altyd daartoe gedryf is nie, maar omdat hulle kan. Daar is 'n bedelaarsmentaliteit gekweek groter as die totaal van al die vorige Afrika lande waar ek was saam. Daar is so 'n mentaliteit dat ek dink jy sal vir iemand R10'000 gee, hy sal dit in sy sak druk en sy hand uitsteek vir nog. Ek moet byvoeg dat die mense van Ethiopie wel 'great' is, jy moet net verby hierdie goed kyk. Dit is net soms moeilik om verby dit te kyk, dit vereis ongelooflik baie energie en geduld.


Ek is ook 'n paar keer deur kinders met klippe gegooi. Ek dink wel dis nie uit agressiwiteit nie, maar meer uit pure stoutigheid. Hulle besef ook dalk nie dat dit fatale gevolge kan hê nie.
Wat wel baie goed gewerk het, is dat ek elke keer sodra ek sien 'n kind tel 'n klip op my hand uitgesteek en vir hom gewaai. By verre die meeste van hulle het dan die klip laat val en vir my teruggewaai. Al die kinders is wel nie so aandagafleibaar nie, so ek is nogsteeds 'n paar keer met klippe gegooi, alhoewel net eenkeer raak was. Ek het myself so vererg dat ek omgedraai het, die motorfiets gestop het en die kind gejaag het. Reg om hom 'n goeie pakslae te gee, maar hy het goed geweet wat hy gedoen het en so vinnig tussen die huise in gehardloop dat ek hom nie kan vang nie. Dis dalk ook goed, want ek weet nie of dit die beste van situasies sou skep nie. Ek dink teen hierdie tyd het ek al 'n paar van my varkies begin verloor.

Hier is mense wat darem meer aangenaam was.
Perde word dikwels opgemaak vir seremoniële aktiwiteite.
Hongersnood en die toekoms van Ethiopie
Gronderosie is baie erg in Ethiopie. Die effek is oral sigbaar. Kyk na die kleur van die rivierwater hieronder. Die risiko vir 'n hongersnood is ook baie groot in Ethiopie. Die redes is dat almal bestaansboere is, daar is dus min opgaring van surplusvoorraad. Ethiopie is baie digbevolk, as gevolg daarvan word elke stukkie bewerkbare landbougrond reeds bewerk. Die metodes is wel eeue oud, die opbrengs is dus swak. Die reënval is hoog, maar baie wisselvallig, dit kan dus gebeur dat groot dele van die land in een jaar 'n misoes het. Daar is dan 'n hongersnood, ten spyte van die feit dat die vorige jaar goed was. Almal lewe dus op die rant van 'n hongersnood met erge gevolge as die eerste wêreld nie vroeg genoeg uithelp nie. Kyk byvoorbeeld na die hongersnood in die 80's waar daar oor 'n miljoen mense dood is. Daar is reeds 70 miljoen mense in Ethiopie, waarvan ongeveer die helfte onder 16 is, dit vat nie 'n breinchirurg om die bevolkingsgroei uit te werk nie. Tensy daar drasties ingegryp word lyk die toekoms volgens my maar duister.

Na 10 uur se ry, kom ek by die teerpad uit. Hy voel so glad soos 'n baba se boudjies en is sag op die rug. Ek het nou al lankal genoeg grondpaaie gery, dat ek vere voel vir die avontuur ding, ek kies dus teerpad sover moontlik. Toe ek by Bahir Dar aankom is ek verlig om te besef ek het my halfpad merkstok bereik en dit sonder enige groot probleme. Met die neus wat huiswaarts wys, raak hierdie perd nou haastig.

Na 'n dag vertrek ek weer na Addis Ababa, dis op hierdie pad waar die armoede te veel raak en my vang. Alhoewel ek hieraan blootgestel is van kindsbeen af, maak dit jou nie harder nie. Dit skaaf my stukkie vir stukkie oor die afgelope maande. Na 2 maande is ek ook nie meer net 'n toeris wat vinnig hier deur ry nie, maar iemand wat in hierdie lande bly. Behalwe van die armoede is die Chauvanisme in sy mees ekstreme vorm ook glad nie 'n plesier om te beleef nie.
Toe ek so ry kry ek 2 gedigte by iemand. Dis geskryf deur iemand wat te veel ervaar, te veel armoede, te veel hartseer, te veel wanhoop en pyn.
Hy klim op sy motorfiets en probeer wegjaag; weg van alles.
Maar tevergeefs, soos spoke maak dit hom wakker snags, dit manifesteer ditself in die ink van sy pen.

Blom van Afrika

Blom van Afrika, waar het als begin?
’n Man het besluit jy’s ryp en jou gepluk?
Jy was skaars ’n bloeisel, dog moes jy vrug begin dra?

Het jy hom lief ?
Jy het nie nè, maar wat maak dit saak, jou Pa het jou tempel vir twee beeste en ’n bok verruil.

Blom van Afrika, die hoeke van jou mond, dié trek na die maan,
maar jou oë, dié glinster grou, ek sien die refleksie van iets daar skuil.
Is dit jy..., in die web van hartseer verstrengel?
Jou oë verklap jy huil.
En wat is daai, is dit die wêreld daar op jou rug?
Dit is nie! En hou op! Dis maar net ’n kruik water vir my vrug,
my juk is sak, my las voel lig.

Blom van Afrika, waar is jou ander half; hoekom help hy nie?
Ek ken hom nie, jy praat van wie...?
Jy jok! Hy maak jou blind, jou eie web jy kan nie sien.
Goed, hy is weg..., hy het 'n gaan blomme gepluk, los my uit!

Jou gesig lyk oud, die blom verwelk.
Die plooie op jou gelaat, sonbebrande groewe uitgekerf deur seisoene se traanriviere.

Blom van Afrika, wat maak jy ...? Elke aand in die bed van ’n ander?
Kan jy nie sien nie, ek sorg vir my vrug!

Pla dit jou nie, jou tempel van God, dié buig voor Mammon.
Ek buig voor geen Mammon geen Bachus my lyf meer geen Venus!!!
. . ...
Ek, my lyf, is lankal dood; die dag toe ek gepluk is, het my siel verdor.
Dit wat jy sien is ’n moeder wat moet sorg vir haar vrug.

Maar hoekom; hoekom alles???
Want ek moet..., dit is die lot van ’n geplukte blom in Afrika.

Opgedra aan elke misbruikte vrou in Afrika
deur ‘die Besoeker op sy fiets’.



Gefrustreerd met die soeke na woorde vir ‘Blom van Afrika’ het hy ook met hierdie een opgekom.

My tong
My tong, waar is jy?
Ja jy, ek praat met jou, jy..., vroër slegs beskore vir ivoor.
Jy raak al min; hoekom?
Het ons jou te styf vasgehou? Versmoor?
Ek ken jou van kindsbeen af, ons het saam leer loop, leer eet.
Nou kruip jou woorde soos kinders vir my weg.
Soos skatte lê hul opgesluit in die donker hoekies van die nag.
Reg om af te stof en op plek weer neer te lê.
...
Hul sê ek moet my werke verbrits.
...
Maar ek, ek bly by jou, my tong, my taal.

Opgedra aan Oupa Gert,
boer en digter van die Kalahari

Saturday, July 15, 2006

15 - 24 Jul Ethiopie: Kenya grens - Addis Ababba - Lalibella

Ek kom in Moyale, die grens dorpie aan net voor sonsondergang. Toe ek by 'n restaurant gaan sit vang dit my, ek is nie net in 'n ander land nie, maar in 'n totaal ander wêreld.

Ek bekyk die mense om my. Die mans sit elkeen met 'n groot bos blare op sy skoot en 'n espresso tipe koppie koffie. Ek sou later leer dat die blare 'Chat' is. Dis 'n baie sosiaal aanvaarde ligte dwelm wat 'n euforiese effek teweegbring as jy die blare kou. Die musiek is skril, anders as enigiets wat ek nog ooit gehoor het, dit het ook 'n Arabiese gevoel. Ek kan sommer die man met die fluit sien en die slang in die mandjie sien.

Wat my ook dadelik opgeval het is hoe die mense praat. Die mees gebruikte woord in Ethiopie is Ishee, dit word uitgespreek 'shee' en het omtrent die betekenis van 'OK'. Sommige mense spreek dit uit deur vinnig na hulle asem te snaak. Ek het aanvanklik nie geweet dis 'n woord nie en gedink dis mense wat op 'Chat' is en elke nou en dan 'n 'fit' kry.

Met handgebare kry ek 'n menu, net om te besef dis tevergeefs. Ek kan nie 'n woord uitmaak nie, vir my lyk dit soos 'n kind wat gekrap het. Gelukkig is daar 'n gawe vrou wat Engels verstaan. Sy help my om iets te bestel. Ek word daarop attend gemaak dat dit 'n vasdag is en ek nie vleis kan bestel nie.

Toe my kos kom was die kultuur skok nog groter. Hulle bring vir my 'n groot skinkbord met 'n tipe pannekoek en vier hopies groente soos spinasie, kool, pampoen, ens. Daar is geen mes en vurk nie en die pannekoek ding is so 60cm groot direk op die skinkbord. Ek wonder of dit as 'n servet dien, maar iemand verduidelik jy eet dit. Ek weet nie mooi wat om te doen nie, ek is nie baie gretig om spinasie en pampoen met my hande te eet nie. Ek hou die ander mense dop en leer dat jy 'n stuk pannekoek moet afskeur en met jou regterhand dan die groente daarmee opskep. My enigste probleem is dat ek links is, na lang gesukkel het ek besluit die mense moet my maar aankyk en met my linkerhand geëet. Ek vind later uit dat die pannekoek injera is. Dis die stapelvoedsel en word van die lokale graan tef gemaak. Die tef word vir 3 dae gegis en het dus 'n suurderige smaak, wat dit vir my minder eetbaar maak.
Hulle het baie lekker brood, wat jy ook breek en gebruik om die ander kos mee op te skep. Sodra jy vaardig raak, kry jy netjies geëet op hierdie manier. Ek kan nie anders as om aan die Bybelse verhale te dink waar daar telkemale verwys word na Jesus wat die brood breek nie. Dit pas baie goed in hierdie kultuur in, almal eet uit dieselfde bord. Hoe meer mense, hoe groter die bord, jy breek die gemeenskaplike injera of brood en skep vir jou kos daarmee op.

Hier is 'n latere ontbyt. Dis roereiers, brood en injera op 'n skinkbord.
Met die slegte pad in Kenya het my linkervurk begin olielek. Ek het tot in Addis Ababa, die hoofstad van Ethiopie gery om dit daar reg te maak. Die suspensie sou oppak as ek aanhou om so te ry.
Ek moes weer in Addis klere was en hier is my pantser:

Nadat ek deur BMW verseker is dat ek nie 'n generiese olieseël sal kry nie, was ek hardkoppig en het die motorfiets uitmekaar gehaal. Na wat wel 'n lang gesoek was het ek die presiese olieseël, partnommer en alles by 'n Isuzu agentskap gekry. Die motorfiets lyk nogal sleg met die voorste suspensie uitmekaar gehaal. Ek kon ongelukkig nie 'n foto neem nie, want op dieselfde dag het ek my sleutel in die topbox afgebreek waarin die kamera is. Na die motorfiets reggemaak is moes ek toe 'n sleutelmaker gaan soek, om wragtag te sien hoe hy soos McGaywer met 'n 'paperclip' die ding oopkry.

Klipkerke in Lalibella:
Twee dae later is alles reg en ek is weer op die pad, hierdie keer na Lalibella. Oppad stop ek by 'n kafee vir 'n Coke. As 'n 'faranji', westerling, is jy outomaties 'n aanloklikheid. Dit is deels omdat jy snaaks lyk, kinders sal byvoorbeeld soms aan die hare op my arms vat, maar dis grootliks omdat jy soos 'n groot Dollar noot lyk. Die kafee eienaar was geen uitsondering en het dit as sy plig gesien om my geselskap te hou. Na 'n goeie dag se ry wil ek net in vrede my koeldrank drink. Hy sê vir my dis nie goed om alleen, 'lonely' te toer nie. Na 'n tyd waarin ek nie juis spraaksaam was nie, sê hy vir my: "You see, that's why I say it's not good to travel lonely. You were so lonely, now you forgot how to speak." Ek kon nie help as om uit te bars van die lag nie.

Halfpad na Lalibella het ek oorgeslaap op Dessie. Die volgende oggend sien ek glad nie uit na die 300km grondpad wat voorlê nie, my rug is alreeds seer. Ek weet nie hoe is die pad nie, maar dis nou reënseisoen in die Ethiopiese hoogland met 'n gemiddelde reënval van 200-300mm vir die maand van Julie. Die skrif is dus teen die muur vir modderpaaie.

Die pad was goed en ek kon so 60km/h ry. Totdat die groot nagmerrie van modderpaaie my tref. Dis as die grondtekstuur skielik verander. Ek het skielik teen 60 in 'n seepgladde modderkol in gery, daar is nie veel om te doen behalwe om stadig spoed te verloor en hoop vir die beste nie. Ek was nie so gelukkig nie en die motorfiets het teen so 50km/h onder my uitgegly. Ons het so 10-15m ver gegly. My crashbars het windskeef gebuig, die val was nogal hard. Dis die eerste keer dat my helmet nogal hard met die grond kontak maak. Daar het ook 'n pyn deur my hand geskiet, maar toe ek by my sinne kom voel ek darem dat ek alles kan beweeg. Mens besef wel nie hoe adrenalien pyn onderdruk nie, want ek kom eers die volgende dag agter dat my linkerbinnebeen ook gestamp het omdat hy potblou is. Die modder was so glad dat ek gly as ek loop. Nodeloos om te sê, hierna het ek teen 5km/h gery. Die ergste van hierdie val was dat ek gate in my reënjas en broek gekry het. Ek het dit later in die reën met duct tape probeer toeplak, maar dit hou nie.

Die pad na Lalibella vat jou deur die Ethiopiese hoogland. Dis bergagtig met baie bergpasse, wat skielik van 1000m tot byna 4000m bo seespieël skiet en terug. Ethiopie is digbevolk, dis soos om deur een groot voorstad te ry. Dit is mense, donkies, beeste, bokke en skape in die pad. Die mense langs die pad loop met lappe of komberse oor hulle lywe gedrapeer, met Bybelse kieries. Die mans ploeg die lande met osse, daar loop 'n man agter wat die saad strooi. Die vrouens en donkies loop nie hier vir kwaadgeld rond nie, almal dra iets, hulle is kompleet pakdiere/-mense. Iets sê vir my dat hierdie prentjie nie 2000 jaar gelede veel anders gelyk het nie. (Ek het ongelukkig al die fotos van hierdie stuk pad verloor.)

Ek het laat in Lalibella aangekom. Die volgende dag is Sondag en voor ek na die beroemde kerke vertrek drink ek 'n koffie saam die hotelpersoneel.
Die legende vertel dat baie Ethiopiers vroër omgekom het in 'n pelgrimstog na Jerusalem, Koning Lalibella het toe besluit om sy eie Jerusalem te bou. Hy het hierdie kerke uit koppies laat kerf. Daar word geglo dat hy dit met die hulp van Engele gedoen het.

Hier het die kerk nounet uitgekom.
Hier is kinders in 'n Sondagskool les.
Oppad na 'n Kerk.
Die ingang.
Hieronder is 'n muur by Bet Maryam, daar is baie simboliek in die kerke.
Die boonste 3 luggate simboliseer die drieënigheid van God.
Die kruis daaronder simboliseer die koms van Jesus na die aarde.
Die drie patrone onder in 'n ry is die drie kruise van Jesus en die ander twee mans op Golgota.
Die twee aan die regterhand het 'n teken bo-op wat verteenwoordig hulle is na die hemel.
Die kruis aan die linkerhand het 'n teken aan die onderkant wat verteenwoordig hy is na die hel.

Hier is 'n priester in Bet Medhane Alem. Die 800 jaar oue kruis in sy hand is in 1997 gesteel, maar is twee jaar later gevind in die bagasie van 'n kunshandelaar in Brussels. Die locals glo hy het genesende krag. My gids het die priester gevra om dit teen sy skouer wat seer is te vryf.
Hier word die smal pad na die Hemel en die wye pad na die Hel gesimboliseer. Let op dat die wye pad na buite loop, maar die smal pad na die kerk. As mens mooi kyk en die water in die smal pad sien besef mens hoe diep dit is en hoe moeilik dit moes wees om uit te kerf.
Hier is sekerlik die bekendste kerk, Bet Giorgis.
Bet Emanuel is een van die fynste uitgekerfde kerke.
Hier is van die huise buite die kerk. Baie is dubbelverdieping, die beeste slaap in die onderste gedeelte. Toe ek my gids vra hoekom die beeste onderin die huis slaap, kyk hy my so snaaks aan en sê, jy gaan sukkel om die beeste bo te kry.
Na die klipkerke is ek na 'n koffieseremonie genooi deur 'n seun wat my rondgewys het in die dorp. Die mense in Ethiopie is baie gasvry, ek is telkemale aangebied om 'n bord kos te deel met iemand in 'n restaurant. (Baie sulke dade is 'n scam, maar ek is al lank genoeg in Afrika om te kon onderskei.)
Die seun bly by sy tannie. Sy is amper stokdoof en het 'n 8 jarige dogtertjie. Sy doen alles met 'n jubel in haar hart en kyk basies na die huishouding. Dis nogal 'n komiese gesig, die dogtertjie hardloop rond om alles te doen en skree kort kort in haar dowe ma se ore om vir haar iets te sê. Ethiopiers neem hulle koffie baie ernstig op, dis nie 'n vinnige besoek nie. Dis letterlik 'n seremonie. Eers word die koffiebone gerooster. Die tannie laat my daarna ruik, maar met die rook oor die stoof kry ek skaars asem gehaal. Dan word dit gemaal terwyl die water kook. Na my eerste koppie wou ek opstaan, maar sien dat nie reg is nie. Jy drink drie koppies in 'n ry, voor jy mag loop. Teen die tyd is drie ure verstreke. Die foto is waserig agv die rook in die vertrek. Al die deure word toegemaak om die vertrek warm te hou. Dit is tragies om die vrygewigheid te sien van mense wat so min het om te gee.
Hierna is ek injera en lensies aangebied, volgens tradisie deel ek en my gasheer 'n bord. Ek wou eers nie eet nie, want ek kan nie injera verdra nie, maar dis 'n belediging om die kos van die hand te wys. So ek was vriendelik verplig; die injera was wel beter as voriges.
Die volgende dag vat ek 'n muilrit na die klooster, Asheton Maryam, in die berge.
Ek was wel bietjie teleurgesteld om te sien dat nie muileienenaar nie ook op 'n muil is nie. Dis vir my 'n belediging. As hy dit kan uitloop, kan ek mos ook. Dit was wel 'n avontuur, met die tog na die klooster meer die moeite werd as die klooster self. Dis nogal 'n ding as jy op die rant van 'n afgrond is en die muil gly op klippe. Ek het later afgeklim, dis in elk geval goeie oefening.
Hierdie dogtertjie het 'n slingervel in haar hand. Haar werk is om die voëls wat die graan wil eet weg te jaag.
Mense wat terugkom van die dorp af.

Friday, July 14, 2006

14 Jul: Ethiopie, Agtergrond, geskiedenis en verhale

Hierdie is ‘n lang artikel, wat gaan oor Ethiopiese geskiedenis, verhale en die verbintenis met die Bybel en Rastafarianisme. (Vir minder leeswerk en meer prentjies, gaan na die volgende artikel.)

Hoekom Ethiopie ?
Te danke aan internasionale media is die eerste prentjie wat in jou kop opkom hongersnood. Ek is al vir jare gefasineer met Ethiopie, maar meer oor die geskiedenis. Jy moet Ethiopie Holisties benader. Dit is soveel meer as die som van sy dele dat jy dit ’n onreg aandoen deur in isolasie daarna te kyk. Die som van hierdie dele, die landskap, die geskiedenis en die mense dra by tot ’n resep vir ‘n wonderlike, dog eienaardige land. Jy toer Ethiopie nie vir enige van hierdie dele nie, maar vir Ethiopie.

Ek moet wel byvoeg dat soos ’n sterk kaas nie vir die beginner bedoel is nie, maar vir ‘n Connoisseur wie se smaakkliere aangepas is vir die pikante smaak, is Ethiopie definitief nie die land vir ‘n beginnertoeris nie. Die smaak is hopeloos te sterk en sal jou geheel en al afsit van verdere Afrikatoere, jy mag dit selfs as frank beskryf. Op my huidige toer sal ek Tanzanie en Kenya beskryf as Gouda of ’n ligte Cheddar. Mosambiek as ’n ryp Brie, maar Ethiopie is definitief die Roquefort van lande.

...maar indien jy opsoek is na daardie tikkie ekstra, indien jou Cheddar soos Soetmelk begin proe, dan is Ethiopie vir jou.

Wat Ethiopie so sterk smaak gee is sy mense. Jy moet gereed wees om verby die voordiehandliggende te kan kyk. Ek moet erken dat alhoewel ek voorbereid was hierop ek Ethiopie nogsteeds emosioneel dreinerend gevind het, maar dis onbetwyfelbaar dat ek ondervindinge gehad het, goed en sleg, wat my tot in lengte van dae sal by bly.

Ethiopie is in meeste opsigte anders as enige ander land in Afrika.
Dit is die enigste land in Afrika wat nooit suksesvol gekolonialiseer was nie.
Tyd begin nie teen middernag nie, maar teen 6:00AM. Dus as dit 2:00AM is in Ethiopie is dit eintlik 8:00AM. Hulle gebruik nie die Gregoriaanse kalender soos die res van die wêreld nie, maar nogsteeds die Julian kalender. 11 September 2006 sal bv. nuwejaar van 1999 in Ethiopie wees. Die amptelike landstaal, Amharigna, gebruik die Ge’ez alfabet instede van die Romeense alfabet, ek kan dus nie eers die woord Coke op die botteltjie lees nie.
Baie mense leef hier nog soos ’n millenium gelede.

Ethiopiese verhale:
Wat deur die Bybel as Ethiopië beskryf word, sluit gewoonlik Eritrea en Noord Ethiopie in. Volgens mondelingse tradisie is Ethiopie gestig deur Ethiopic, die agter kleinseun van Noag en Ethiopic se seun Aksumai het die hoofstad van Aksum begin. Daar word telkemale na Ethiopie in die Bybel verwys. Moses het byvoorbeeld met ’n Ethiopiese vrou getrou (Numeri 12:1) Ethiopie het as Kus bekend gestaan deur die Hebreërs.

Hierdie gebied is ‘n skatkis van legendes. Ethiopiers is lief vir hulle verhale en dit word ook baie nou vermeng met hulle geloof, nl Ethiopiese Ortodokse Christenskap. Gedeeltes hiervan kan deur die Bybel gestaaf word, maar baie gedeeltes nie. Daar is ook baie kontrasterende verhale. Ek het dit uitgehaal wat volgens my die meeste sin maak, maar tog ook ‘n mooi storie is. Die verhale moet met ‘n knippie sout geneem word, dit is tog baie interessant.

Die Koningin van Skeba, Salomo, Menelik en die verbondsark:
Die Koningin van Skeba het Salomo besoek en baie geskenke aan hom gebring (1 Konings 10:1-13). Volgens die Ethiopiese verhale, het Salomo ‘n seun by haar verwek met die naam Ibn-al-Malik, wat beteken ‘Seun van die Koning’. Hy het later bekend gestaan as Menelik. Op die ouderdom van 22 het Menelik na Jerusalem teruggekeer om sy vader te besoek en drie jaar daar gebly terwyl hy die wet van Moses geleer het. As die oudste seun het Salomo hom die troon aangebied, maar Menelik het dit van die hand gewys. Op sy tog terug na Ethiopie het Salomo hom laat vergesel deur die eersgeborene van elk van die hoëpriesters en ‘n 1000 mense van elk van die 12 stamme van Israel.
Azariah, eersgeborene van die hoëpriester van die tempel van Jerusalem, het ‘n droom gehad dat hy die Verbondsark moet saamneem, hy het Menelik hiervan vertel en dit is gedoen. Na hulle vertrek het Salomo agtergekom dat die Verbondsark weg is, hy was baie kwaad, maar het toe ook ‘n droom gehad dat dit goed is. Salomo het wel daarop aangedring dat dit geheim gehou word. Van daardie dag af is die ark in Ethiopie. Dit was vir 800 jaar in die klooster van Tana Kirkos gehou waarna dit verskuif is na die Kerk van St Mary Zion in Axum waar dit vandag gehuisves word. Die bewaarder van die ark is die enigste mens lewend wat dit al gesien het. Hy verlaat ook nie die afgekordonde deel van die kerk in sy leeftyd nie, met sy dood sal hierdie taak deur die volgende bewaarder oorgeneem word. Huidige argeoloë sluit Ethiopie regtig in as ’n moontlikheid vir die huisvesting van die ark. Vir meer inligting gaan na: http://www.baseinstitute.org/covenant.html

Op Menelik se terugkeer het sy Ma in sy guns geabdikeer en Menelik het tot die troon toegetree. Dit is vandaar wat die Koningryk van Salomo voort geleef het tot in die 225ste (sommige bronne sê 237ste) geslag van Haile Selassie I, wat Ethiopie regeer het tot in 1974. Met dié geskiedenis in gedagte, sal dit dan die oudste troon ter wêreld wees met ‘n ouderdom van ongeveer 3000 jaar. (Ek moet wel net bylas dat hierdie troon baie onstuimigheid beleef het en baie staatsgrepe gehad het. Daar word dus beweer dat al die onverwante regeerders van Salomo afstam, bloot omdat hulle Ethiopiers is.)

Die laaste spoor van die Ark in die Bybel is in 2 Kronieke 35 (ongeveer 600VC), waar Koning Josia die Leviete beveel het om weer die Ark in die tempel van Salomo te sit.
Dis wel nie duidelik of hulle dit gedoen het nie.
In die Apokriewe boek 2 Maccabees 2:1-8 word verwys dat Jeremia die ark in ’n grot in die berg waar Moses met God gepraat het gebêre het en die grot afgeseel het. Dis wel nie ’n Kanonieke boek nie, so Kronieke is dus die laaste aanvaarde Bybelse spoor.

Dit word wel beweer dat die ark nie in die Tempel van Salomo was toe dit deur die Babeloniërs vernietig is nie. Dit is waar die Ethiopiese legende aansluit.

In Jeremia 3:16 het God verklaar dat die Ark wel nie meer ’n rol sal speel nie. Ek het net ’n Engelse Bybel, maar die teks sê: “... the ark of the covenant of the Lord. It will never enter their minds or be remembered; it will not be missed, nor will another one be made.”

In die Bybel dra dit dus geen meer water nie, maar dit verskyn in baie ‘conspiracy theories’ oor geheime organisasies soos Vrymesselary, die boek Da Vinci Code wat onlangs opsprake gemaak het, ensovoorts. Ek dink dis bloot die mistiek daarvan wat die verbeelding van die mensdom prikkel.

Hoekom mag niemand die Verbondsark sien nie?
Ek het met ’n paar mense hieroor gepraat, die Priesters argumenteer dat dit hopeloos te heilig is vir normale mense om te sien. ‘n Ander teorie stem toevallig baie ooreen met die ‘Holy Grail’ teorie van Dan Brown in sy boek Da Vinci Code. Dit behels dat die ark dokumente met ’n waarheid bevat wat, indien dit bekend word, sal veroorsaak dat die Kerk in Ethiopie sy mag oor die mense verloor. Hulle hou dus die inhoud van die ark geheim om hul eie status en finansiële inkomste te beskerm. (Hou in gedagte dat hierdie slegs ‘n teorie is, wat nie gestaaf kan word nie.)

Ethiopiese Ortodokse Christenskap:
Hierdie vorm van Christenskap is gestig in die 4de eeu NC in Aksum. Sommige beweer dat dit verbonde is aan die Koptiese, Egiptiese, Kerk. Ander beweer weer dat dit heeltemaal onafhanklik ontwikkel het. ’n Interessantheid is dat die taal van die Kerk nog Ge’ez is. Priesters lees en vertaal nog dikwels uit ’n Bybel geskryf in Ge’ez. Dis ‘n antieke Suid Semetiese taal wat dateer vanuit die 5de eeu VC.
Met die erge taal en skrif grens is dit moeilik om ’n goeie idee vir my self op te maak van die geloof. Wat ek wel bevind is dat bygelowe so ’n groot deel van die geloof uitmaak dat ek soms wonder of dit nie die wortels van die geloof oorskadu nie.

Jode in Ethiopie:
Die Ethiopiese Jode word deur Israel erken as direkte afstammelinge. As uitgeworpenes in Ethiopie met 'n onstuimige regering het Israel die meeste Ethiopiese Jode na Israel gevlieg. Dit het grootliks in twee operasies plaasgevind, onderskeidelik Operasie Moses in 1984 en Operasie Salomo in 1991. Operasie Salomo was ook kontroversieel omdat die 36 uur lange operasie oor die Joodse Sabbatdag gestrek het. Vandag leef daar ongeveer 90'000 Ethiopiese Jode in Israel.

Die wortels van Rastafarianisme
Rastafarianisme het ontstaan in Jamaica. Maar sy wortels lê in Ethiopie. Die Jamaicans glo dat hulle afstammelinge van slawe is wat vanuit Ethiopie uitgevoer is.
Hulle glo dat Haile Selassie I, Koning van Ethiopie tot en met 1974, deel van die drieënigheid van God is. Hulle sien hom as die Messiah wat belowe is om terug te keer. En hy voldoen volgens hulle aan die kriteria van Openbaring 5 om die boek met 7 seëls oop te maak en is die “Leeu van die stam van Judas”.

Voor sy kroning was Haile Selassie bekend as Ras Tafari. As volgelinge van Ras Tafari vernoem Rastafarians hulself dus na Haile Selassie I. In ‘n neutedop is die geloof ‘n mengsel van Christenskap, Judaisme en dan die meer bekende idees, naamlik die dagga, dreadlocks, Reggae musiek, ens. Laasgenoemde idees het meer hul oorsprong in Jamaica gehad en die Christenskap en Judaisme kom weer meer vanuit Ethiopie. Dis ook opmerklik dat die Ethiopiese vlag die rasta kleure verteeenwoordig, nl rooi, geel & groen. Sedert 2005 vier Bob Marley ook sy verjaarsdag met ’n musiekfees in Ethiopie. My gevoel is dat baie Rastafarians meer klem lê op die Jamaican deel. Met my navorsing oor die rasta geloof blyk dit dat dit nog nie heeltemaal deurdink is nie, aangesien daar heelwat verskillende doktrines bestaan wat ooglopend kontrasterend is. Dis wel nie vir my om te oordeel nie, die meeste gelowe sukkel maar om eensgesindheid te kry ook hulle doktrines, alhoewel dit gewoonlik minder ooglopend is. Dis tog waar verskillende denominasies van ’n geloof inkom.

Met die onstaan van Rastafarianisme by onderdrukte swart slawe in Jamaica was dit tradisioneel nogal rassisties en bitter oor die feit dat soveel swart bevolkinge deur blankes onderdruk word. Hulle het ook baie aandag geskenk aan die bewering dat Jesus en sy dissipels eintlik swart was. (Watter kleur Jesus en sy dissipels was is ‘n area wat lei tot hewige debat, daar is baie teorieë en dit traak my nie regtig nie. Volgens wat my betref kon hulle pers gewees het.) Wat ek wel by wil uitkom is dat die Rasta geloof Ethiopie sien as die bastion van swart onafhanklikheid en trots, omdat Ethiopie die enigste Afrika land is wat nooit heeltemaal gekolonialiseerd was nie en die volk eintlik afstammelinge van Salomo is.

Deesdae is Rastafarianisme wel baie minder rassisties en oop vir alle rasse. In Addis Ababa het ek vir Fana ontmoet.
Sy is ‘n Hollandse Rastafarian wat al 8 jaar in Ethiopie bly. Sy is gedoop in die klipkerk van Lalibella, as ‘n Reggae promotor en vasbeslote Rastafarian het sy my baie vertel van haar idee van die geloof. Sy glo weer sy is ‘n direkte afstammeling van Salomo vanaf die Israelitiese kant.
Ai..., die mensdom darem.

Wednesday, July 12, 2006

12 Jul Kenya: Mees berugte pad in Afrika

Ek is nogal op my senuwees. Ek is nou by die beginpunt van sekerlik die mees berugte pad tussen die Kaap en Kairo. Dis die stuk tussen Isiolo en Moyale. Enige ‘Overlander’ wat sy sout werd is ken die pad pad, of hy het dit gedoen, of hy het gehoor daarvan. Die pad is die toegangsroete tussen Kenya en Ethiopie. Die ander paaie na Ethiopie is deur Somalie of Sudan, beide van hulle is nie 'n opsie nie.

Dit is berug om 2 redes. Een, dis ‘n 510km stuk slegte grondpad wat deur ‘n verlate vulkaniese woestyn gaan. Twee, daar is baie konflik in die gebied. Dis meestal tussen die stamme in Noord Kenya, maar strek ook oor na die Ethiopiese grens. Hulle steel oor die algemeen mekaar se beeste en dit lei tot gevegte. Hierdie is 'n eeue oue konflik. Al wat verander het oor die jare is dat gewere by die gevegte gevoeg is, en baie…

‘n Week gelede het 500 Ethiopiese rebelle ‘n stam in Kenya ingeval. Die Kenyaanse weermag het ingegryp en daar is 16 mense doodgeskiet. Alhoewel die gevegte tussen die stamme is, bly ‘n toeris ‘n maklike teiken. Volgens wat ek hoor, behoort hulle jou darem net te beroof. Hier in Isiolo sê hulle ek moet suiker saamry vir die ‘Shiftas’, dis die lokale naam vir die rowers. Ek doen dit, maar sit ook so US$50 in my beursie, dis my ‘dummy’ beursie. Die res van my geld word oral weggesteek, in my gereedskapkis, sokkies, Bybel, motorfietsbaadjie en onderbroek. Ek hoop ek kry self weer al die geld in Ethiopie. Ek het heelwat inlgting probeer inwin en tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie te onveilig is nie, ek sou dit wel nie doen indien ek ‘n vrou en kinders gehad het nie.
Voor ek ry stuur ek vir my broer my ’n sms testament. Daar is nie veel te sê nie, dit behels basies jy kan my ekstra klere en rekenaar kry indien iets gebeur. Ek is nie sinies nie, maar dis tog nugter om jou testament reg te hê en hulle moet weet wat om met my rekenaar te doen.

Die Kenyaanse weermag het gewapende konvooie waarin jy kan ry, maar ek het daarteen besluit. Die konvooi bestaan gewoonlik uit 3 weermagtrokke van so 25 soldate elk, natuurlik almal gewapen. My redenasie was dat, indien daar ‘n rebellegroep is wat sterk genoeg is om die konvooi aan te vat, sal ek in die spervuur te staan kom. Dan kies ek eerder om vreedsaam beroof te word.

6:00AM is ek op die pad, ek het vroeg weggetrek om genoeg sonlig voor my te hê.
Die pad is eintlik goed, maar erg sinkplaat, ERG. Die hobbeltjies is so 30cm hoog op plekke. Jy kry dan ‘n spoed van so 20km/uur gery. Ek het vandag 260km om te doen. So dis ‘n vol dag se ry. Indien dit ‘n kort stuk pad was sou dit niks gewees het nie, ek het al slegter paaie gery, maar dit hou nooit so lank aan nie.
Na 80km moet ek stop om die skokbrekers te laat afkoel. Dis die eerste keer in my lewe dat my skokbrekers ‘fade’. Ek het al hiervan gehoor, maar nog nooit eerstehands beleef nie. Dit word te warm dat die olie so dun raak dat die skokbrekers pap word. (Dis ten minste hoe ek dit verstaan.) ‘n Ander effek wat ek ook vir die eerste keer beleef het, is dat die ‘rebound’ van my voorste skokbreker nie reg gestel is nie. Ek het altyd gedink ten volle verstelbare skokbrekers is onnodig, maar nie hier nie!

Eers ‘n bietjie suspensie 101 om die probleem te veruidelik:
Suspensie bestaan uit 2 dele, vere en skokbrekers. Die vere is wat die voertuig laat op en af gaan, die goeie Afrikaans is ‘springs’. Die skokbreker hou die voertuig stabiel deur te keer dat die vere, ‘springs’, te maklik op en af gaan. (Dit voorkom die wiegie effek.)

Daar is 3 faktore betrokke by die suspensie van ‘n voertuig, nl. ‘Preload’,‘damping’ en ‘rebound’.
1. Preload behels om die vere vooraf stywer saam te pers. Hoe stywer jy dit stel, hoe harder is die voertuig geveerd. Net kronkelvere is soms verstelbaar.

Damping en rebound word deur die skokbreker gedoen.
2. Damping bepaal hoe vinnig die skokbreker saamgepers kan word. Hoe stywer, hoe moeiliker pers dit saam.
3. Rebound bepaal hoe vinnig die skokbreker weer uit kan trek.
Met gemiddelde skokbrekers is damping en rebound een en dieselfde.

Goed, nou dat dit verduidelik is. Ek het ‘n probleem met die ‘Rebound’ van my voorste skokbreker gehad. Wat gebeur is die volgende:
Elke keer as ek ‘n hobbel tref word die skokbreker saamgepers, maar dan voordat dit kans kry om weer uit te druk slaan die volgende hobbel dit weer in. Met die gevolg dit druk meer en meer in, en op die ou end ry jy met heeltemaal saamgeperse suspensie; wat niks beteken nie. Klippe wat op ‘n ander pad niks sou maak nie laat nou sommer die suspensie deurslaan. Op ‘n pad soos die sou jy die ‘rebound’ papper stel, sodat die skokbreker vinniger kan uitdruk. (Ek was gewaarsku om beter suspensie in te sit vir hierdie pad, maar teen ongeveer R15000 vir voor en agter, het ek daarteen besluit.)

Hier loop ek vir die eerste keer erg tradisionele mense raak, wat nie so aantrek vir toeriste nie, maar omdat dit eg is. Hier kom nie baie toeriste nie en die wat wel hier kom stop nie.

Ek het hierdie man ontmoet, hy gaan trou en loop saam sy strooijonkers en bokke vir labola rond. Met die taal verskil is dit moeilik om meer oor die tradisie uit te vind.
'n Klip het my modderskerm gevang en afgeruk.
Hier het ek 'n tradisionele vrou langs die pad raakgeloop, ons kon mekaar hoegenaamd nie verstaan nie.

By Marsabit gekom, dis die dorpie halfpad, is dit bietjie meer bergagtig. Hier is 'n mooi krater, 'n mini Ngorongoro. Dit was ook op Marsabit dat ek verneem dat die Shiftas, gister op 'n toeris geskiet het op hierdie einste pad. Hy het darem met net 'n gat in sy windskerm weggejaag gekry. Die nuus het my nie juis beter laat slaap nie.
Behalwe vir die sanderige deel bestaan ‘n groot deel van die pad net uit vulkaniese klip. Dis glad soos albasters op plekke.
Ek het hier onder die skadu van die motorfiets vir 'n tydjie gelê en rus, daar is geen ander skadu nie.'n Klein sandstorm
Ek het ‘n ongewapende karavaan kamele raakgeloop en veilig genoeg gevoel om 'n foto te neem. Ek was wel nie welkom nie en hulle het my met klippe gegooi begin gooi. (Let op na die hand van persoon tweede van links.)
Ek het geen fotos van gewapende mense geneem nie, die ondervinding word dus nie korrek weerspieël nie. Daar was wel baie, tot beeswagters van so 13 jaar oud loop met AK’s rond in stede van kieries. Die lokale trokke het ten minste een man met ‘n AK agterop. Hulle staan agterop die trok aan die voorkant met die geweer duidelik sigbaar, seker om as afskrikmiddel te dien. As jy so trok sien aankom met ‘n paar gewapende mans agterop lyk dit kompleet soos ‘n militante rebellegroep. Die mense het oor die algemeen baie agressief geraak indien ek fotos wou neem, dit sal bloot dwaas wees om iemand met ‘n AK in sy hand te ontstel.

Oor die algemeen was die terrein van hierdie pad nie so sleg nie, maar wat dit erg maak is die afstand daarvan. Dis 510km wat my oor 2 dae 'n totaal van 21uur geneem het. 4x4 Ryers vind nie die pad so erg nie, maar al die motorfietsryers wat ek ontmoet het is dit eens, hierdie is 'n pad is van die hel homself. Ek dink wat dit erg maak is dat jy so hard moet konsentreer as jy motorfiets ry, veral op 'n slegte pad, en om hierdie konsentrasie te hou vir 21 uur teen 'n gemiddelde spoed van onder 20km/h is net sieldodend. Dis afgesien van die feit dat jy elke spier in jou lyf in 'n spasma in skud.