Ek vat die pad na Kenya deur Oos om Kilimanjaro te ry. Dit is die 'road less travelled', maar na die gekommersialiseerde toerismte van die aftgelope tyd is dit 'n welkome verandering.
Die teerpad het skaars opgehou toe verander die mense alreeds. Skielik is hulle vriendelik, sonder om geld te vra. Almal groet my, die mans wat piesangs op hulle kruiwaens aanry stop en sit dit neer, mense klim van hulle fietse af, die hele dorpie kom tot 'n stilstand soos ek deurry, almal wonder watse gevaarte is die, hulle ken nie so 'n groot motorfiets nie. Almal staan doodstil en kyk jou verbysterd aan, tot jy jou hand oplig en groet, dan soos een man lig die hele dorp se mense hulle hande op en groet terug. Dit voel bietjie snaaks, jy voel amper soos 'n koning wat deur sy land ry en deur die armes vereer word.
Op 4 Julie is ek die eerste persoon deur die Loitokitok grenspos vir die maand.
Dit is warm en die pad het my effe moeg gemaak.
Hulle weet nie hoe werk 'n 'Carnet de passage' nie en ek moet hulle eers verduidelik.
Aan die Kenya kant gekom is daar geen immigrasiekontrole nie. Ek moes by die naaste Polisiestasie gaan aanmeld. By die Polisiestasie gekom, voel ek skielik minder veilig toe ek 'n kennisgewing sien van tariewe om polisie te huur vir persoonlike veiligheid. Hier ontmoet ek vir Chris, hy is 'n inspekteur in die gebied en waarsku my ook teen nagry in Kenya. Ons het baie lekker gesels, hy gee my bietjie inligting oor die sekuriteitssituasie in Kenya, hy is wêreldwys en het al as vredemaker vir die VN in Bosnie gewerk. Chris koop vir my 'n Coke in die polisiekaffeteria, dis lekker om met 'n 'local' op 'n vriendskapsgrondslag te kan kuier eerder as om weereens gemelk te word vir geld as 'n buitelander.
Nou vat ek die pad deur die Nyiri woestyn, dis volgens my darem nie 'n woestyn nie, maar eerder 'n oorbeweide semi-ariede gebied. Hier is baie vulkaniese rots en dis moeilik om te glo dat ek 25km terug in 'n reënwoud was.
Hier kry ek 'n donkie wat die pad gevat het. Hy staak seker, daar is niks en niemand in sig nie, net die donkie wat in die pad afloop met sy vrag.
Uitsig oor die Nyiri woestyn:
Tuesday, July 04, 2006
4 Jul Kenya via Loitokitok
Posted by Danie Olivier at 7/04/2006 05:19:00 pm
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment