Toerisme besoedeling:
As 'n opgevoede mens is jy daarop ingesteld om nie die wêreld te besoedel nie en die gebied na te laat soos jy dit gekry het. Ongelukkig sluit mens onbewustelik hierby net fisiese goed in soos rommelstrooi, ens. Mens besef nie hoe besoedel jy die gebied in ander vorme nie. Die ergste besoedeling wat deur toeriste nagelaat word is die aanleer van slegte gewoontes in die alledaagse lewens van die lokale bevolking. Hierdie is iets waaroor ek sterk voel en waarop ek fyn ingesteld is. Soos ek deur Afrika ry kan ek duidelik sien hoe bedelary toe- en afneem.
In die gekommersialiseerde toerisme gebiede is die gevolge skrikwekkend, jy sal byvoorbeeld mense kry wat na jou toe stap met ‘n bakhand en jou doodrustig vra, “give me”. Of iemand staan met ‘n bakhand en soos jy verby hom ry, kyk hy jou in die oë en trek sy skouers op. So met die bedoeling van, “ Wat…, jy ry deur my land en gee my niks, wat's fout met jou?” Of die ergste, kinders wat skree, “sweets, sweets”. Ondervindinge soos hierdie bring ‘n slegte smaak na vore.
Maar kyk bietjie verby die dade en eerder na die oorsaak daarvan. Hoekom tree die mense so op? Hulle bedel nie van altyd af nie en armoede is nie 'n verskoning nie. Nee, hulle is so geleer, dis 'n gevolg van toerisme besoedeling.
Ek kan sommer hierdie prentjie in my geestesoog sien. ‘n Tannie vanaf ‘n meer gegoede land, wat in haar lugverkoelde 4x4 sit, die ruit so effe laat sak en vir die arme kindjie langs die straat ‘n lekkertjie gee. Sy gaan slaap die aand met ‘n lekker warm gevoel in haar hart, met die wete van, “ek het vandag ‘n verskil gemaak aan ‘n kinderhartjie…, ek het ‘n verskil gemaak in Afrika”.
Dink bietjie wat gebeur eintlik hier. Daardie kind se onskuldigheid is weggevat. Hy gaan nou in stede van karretjies speel vir ‘sweets’ bedel. Indien bedelary ver genoeg ontwikkel gaan hy vir sy ouers bedel, want hulle weet dat ‘n kind met ‘n hartseer gesiggie, die hartsnare van buitelanders slaan. Hoe dit ookal sy, daardie kind se selfrespek en daardeur sy laaste hoop op ‘n beter toekoms is weggeneem. Dit alles deur iemand van buite wat goed bedoel het, maar op die verkeerde manier gegee het.
As mens vir ‘n minderbevoorregte persoon iets gee, dink baie mooi aan die manier waarop jy dit doen. Moet dit nie op ‘n manier doen waarop jy iemand se selfrespek aantas nie. As jy dit nie op ‘n goeie manier kan doen nie, doen eerder niks. Goeie dade op die verkeerde manier kos aan die einde van die dag vir minderbevoorregtes meer as dit wat hulle ontvang.
As jy deur 'n gebied toer, probeer dit doen op 'n manier waarop jy die gebied en sy mense nalaat soos jy dit gekry het. Sou jy dit verander, laat dit ten goede wees.
Friday, June 30, 2006
Posted by Danie Olivier at 6/30/2006 10:36:00 am 0 comments
Sunday, June 25, 2006
25/26 Jun Lushoto:
Lushoto is 'n klein dorpie in die Usambara berge so halfpad tussen Dar Es Salaam en Kilimanjaro. Hulle noem dit die Switzerland van Tanzanie. Dis 'n mooi plekkie en die koel weër is 'n welkome verandering van die tropiese kusweër. Jy ry so 35km bergpas uit om hier te kom. Op plekke is dit so smal dat twee voertuie nie verby mekaar sal kan kom nie, maar dis die mooiste paadjie.
Ek ry die eenstraat dorpie binne en die rustige atmosfeer val my op. Ek kan die Europese invloed duidelik hier aanvoel, maar dis definitief nie Engels nie en ek kry nie dadelik my vinger op die styl geplaas nie. Dis eers na 'n hele tyd dat ek van die Duitse invloed onthou en dan kan jy duidelik die Duitse gevoel optel. Die geboue is reghoekig met sulke groot rooibakstene met dik wit sement tussenin. Die rooiteeldakke is swartgrys van die mos.
Ek stap 'n restaurant binne, hy het 'n houtheining wat toegegroei is met roeskleurige Bougainvillea's. Ek ruik die aroma van vars koffie en kruie. Dis koud hier en die restaurant het 'n 'cozy' atmosfeer, dit het nou 'n regte herberg gevoel. Die dowwe geel lig en reuk van paraffienlampe dra by tot die ambiaans.
Sondagoggend lui die klokke van die kerk hoër in die pad op, maar dis nie soos 'n NG kerkklok nie, dit het verskillende grote klokke en is 'n hele musiekspel. Die weër is trietsig, maar ek sit op 'n lekker stoep, drink tee en eet skons. Ek is die enigste buitelander in die dorp.
Tenspyte van die mistige weer vat ek die pad na die Irente uikyk punt. Oppad gaan ek by 'n plaas aan, dit was 'n ou Lutherse sendingstasie. Daar slaan Irene, die vrou hieronder, vir my 'n tuisgemaakte piekniekmandjie aanmekaar. Alles is vars gemaak en organies genoeg om Woolworths skaam te maak.
Toe ek by die uitsig kom is dit toegemis, maar in 'n oogwink het die wolke oopgemaak en die uitsig aan my openbaar.
WOW!!! Dis soos Priderock van Lion King. Ek kan sommer sien hoe Mufasa vir Simba optel en die hele diere koningkryk daaronder, so groot soos miere, hom toejuig. Ek sit op 'n krans met so 600m 'drop' regaf, met so 160 grade uitsig. Voor my is vlaktes oneindig ver. Dit voel of ek op die rant van die aarde sit. Mens spits jou sintuie op die omgewing toe en probeer alles indrink, kompleet asof jy dit kan bêre vir later.
...God het hier 'afgeshow'.
Hier nuttig ek my piekniekmandjie op die uitkykpunt, dit was ongelukkig te mistig vir goeie landskapfotos.
Posted by Danie Olivier at 6/25/2006 02:03:00 pm 0 comments
Friday, June 23, 2006
23 Jun Dar Es Salaam:
Ek het redelik moeg in Dar Es Salaam aangekom met 5500km agter die rug. Die slegte pad het ook so effe sy tol begin eis op my motorfiets.
So moet 'n dryfas NIE lyk nie.
Die olieseël het die gees gegee. Met my modderry manewales het daar ook modderwater deur die 'breather' pyp in die dryfas gekom. Ek besluit om hom maar heeltemaal oop te maak en seker te maak die 'bearings' is nog reg. (Sou ek die Afrikaanse taaljuweeltjie, koeëllaer, gebruik sal net die ouer garde weet waarvan ek praat.)
Na twee dae, $30 se taxigeld, $9 se parte en $120 se gereedskap is ek weer op die pad. Moenie dink jy gaan 'n 'torque wrench' in Tanzanie geleën kry nie. Ek moes seker maak jy draai die boute die regte hoeveelheid vas aangesien jy drukking op die 'bearings' toepas en die hele agteras word net deur 2 boute vasgehou. Ek wil liefs seker wees hulle is reg vas, dink net aan die katastrofiese gevolge as die as teen 120km/h sou loskom...
Daar word nou boeke uitgegooi en plek gemaak vir ekstra gereedskap. (Die enigste onnodige luukshede wat ek saamry is 'n Ipod, boeke en 'n kussing.)
More vat ek die pad binneland toe, ek kan nie wag nie.
Posted by Danie Olivier at 6/23/2006 12:44:00 pm 0 comments
Thursday, June 22, 2006
Oos-Afrika geskiedenis:
Die vasteland gebied van Tanzanie het eers bekend gestaan as Tanjanika. Toe Tanjanika en die eiland Zanzibar saamsmelt na onafhanklikheid het hulle die eerste lettergreep van elk gebruik en by die naam Tanzanie uitgekom.
Voor die Europese inmenging was Oman in beheer van Zanzibar. Die handel, meestal slawe en ivoor, het so goed gegaan dat die Sultan van Oman sy hoofstad vanaf Muskat na Zanzibarstad geskuif het in 1832. Oorspronklik is Swahili net deur die bantoe handelaars van Zanzibar en die Tanzaniese kusomgewing gepraat. Die woord Swahili kom van die Arabiese woord 'sawahil' af, wat beteken grens of kus. Swahili het ook baie Arabiese leenwoorde en daar is vroër bespiegel dat dit 'n Arabiese oorsprong het, maar hierdie teorie is intussen verkeerd bewys. Soos hierdie handelaars dieper in Oos-Afrika inbeweeg het, het hulle invloed so groot geraak dat Swahili vandag dien as lingua franca vir amper die hele Oos-Afrika.
In die middel 19de eeu het Britanje en Duitsland se belangstelling al meer geraak in Oos-Afrika en in 1873 het Engeland die slawehande in Zanzibar verban. In 1890 is daar 'n ooreenkoms gesluit waarin Duitsland beheer verkry het oor wat vandag Tanzanie, Rwanda en Burundi is. Dit het toe bekend gestaan as Duits-Oos Afrika. Engeland het beheer oor Kenya en Uganda verkry.
Na die tweede wêreldoorlog het Duitsland sy beheer verloor en Tanzanie is aan Engeland toevertrou en Rwanda & Burundi aan Belgie.
Posted by Danie Olivier at 6/22/2006 01:12:00 pm 0 comments
Wednesday, June 21, 2006
20/21 Jun Mtwara - Dar Es Salaam:
Ek dag vandat ek in Tanzanie is, is ek nou in ontwikkelde gebied. Groot fout. Ek was onder die indruk die pad is goed tot by Dar Es Salaam en wou sommer in een dag die 600km aanpak.
So 10km buite Mtwara stop die teer... vir so 500km. Ek het nie sulke slegte paaie soos die afgelope paar dae in my woordeskat gehad nie, ek kon nie dink dat 'n pad so sleg kan wees nie. Die toestand van hierdie paaie hang baie van reën af... en het dit nie die afgelope tyd gereën nie. Oor die algemeen kon ek so 10-40km/h ry. Ek het vir 300km gestaan en ry, dis om beter beheer te hê, maar ook om my niere te spaar. (Volgende keer word 'n 'kidney belt' eerste ingepak.)
Eerstens hardloop ek uit petrol uit. Die petroltrokke wat hierdie gebied voorsien het vir 2 weke in die modder vasgesit en hier was dus geen toevoer nie. Ek hoor van iemand wat in sy hut, so 40km van roete af, petrol het. Ek moes maar soontoe ry, maar mens vat 'n kans, want jy ry jouself al dieper in die moeilikheid in. Gelukkig was daar petrol, genoeg om vol te maak.
Jy sal onbreekbare potte kan bak met die klei waarin ek hier vasgesit het. Indien ek nie so lui was nie sou ek makliker daardeur kon kom, maar ek was nie lus om eers deur te stap nie. My broek was droog en daardie modderwater het nie lekker gelyk nie. Ek het deur die modderpoel gery en meteens 'n gat binnegery.
Ek moes amper 'n uur wag vir iemand om verby te kom om my te help. Dit was twee fietsryers en hulle was ywerig om te help. Met 'n lang gesukkel het ek uitgekom..., dis asof Michellin hierdie bande met seep behandel het. Soos die duiwel dit wil hê voeter die motorfiets nog 2 keer om terwyl ek die tasse probeer opsit. Teen die tyd is ek rasend! Die fietsryers het in die pad geval en ek is alleen, nes ek die motorfiets amper regop het gly sy agterwiel na die modderpoel se kant.
Asof hierdie nie genoeg is nie begin dit reën net na ek uit die modder uit is. My een kanttas het ook afgeval in die ry. Ek ry nog so en voel dat die motorfiets skielik effe regs trek, na 'n hele tydjie kom ek agter ek het die linkerkanttas verloor en tel hom so 1km terug in die pad op. Toe besef ek dat met die harde val van gister het die aanhegtingspunt op die 'subframe' gebuig wat veroorsaak dat die tas nie goed vasmaak nie. Gelukkig is daar niks wat 'n paar wassers nie kan regmaak nie; ek sit 'n paar ekstras in om te kompenseer vir die buig. Die tas heg toe weer mooi in lyn en ek is weer op die pad.
Hier is 'n sinkgat in die middel van die pad, groot genoeg vir my hele voorwiel.
Voor Dar Es Salaam begin die teer en ek neem 'n foto van hierdie ambisieuse houtskoolverkoper.
Posted by Danie Olivier at 6/21/2006 11:30:00 am 0 comments
Monday, June 19, 2006
19 Jun Die pad is sleg:
Die sand ry vrek moeilik met so swaar motorfiets, maar met oefening raak mens beter. Hierdie is my sesde val vir die dag. Hy was nogal hard en so teen 50-60km/h. Die sand ry baie lekkerder as jy bietjie momentum het, dan sak jy nie so diep in nie. Die probleem is net dat wanneer jy 'n fout maak val jy soveel harder. Ek het net begin selfvoldaan raak, maar na hierdie val is mens terug op jou plek.
Met die val het ek my bors redelik hard geslaan en bly op die grond lê. Op daardie stadium gee mens nie meer om oor enigiets nie, jy wil net stil lê. Toe hoor ek stemme om my, ek skraap moed bymekaar, kyk so deur die skrefie van my valhelm na die motorfiets en sien dat die linkerkanttas afgebreek het. My hart sak tot in my skoene en ek lê sommer verder.
Jy moet deur moerasse ry en die water raak plek plek diep. Ek moes elke keer eers stop en deur dit stap om 'n gangbare lyn te kry om te ry.
Jy ry ook deur 'n woud, die pad is nogal toegegroei en omdat jy in die spore moet ry skuur die takke jou baie.
Gelukkig was die ferry daar. Hy het net vir my gewag. Hulle het nie regtig moeite gedoen om 'n mooi laaibank tot die ferry te maak nie. Jy moet maar net oë toeknyp en afry. Die afgelope 50km het my 3 ure geneem!
Posted by Danie Olivier at 6/19/2006 10:59:00 am 0 comments
19 Jun Pelma - Mtware (Tanzanie):
Ek groet die nonne en val in die pad, maar ek kry nie die paadjie na die grens nie. Ek wil nie my GPS glo nie, want die paadjie wat hy aanwys is regtig klein. 'n Mens kan sien dat daar AL 'n voertuig gery het, maar dit gebeur duidelik nie baie nie.
Dis 50km tot by die Rovumarivier waar ek 'n ferry kry om my oor die grens te vat. Ek moes van Pemba af die kaptein van die ferry in Tanzanie skakel om te reël dat hy daar sal wees. Hy bly in 'n dorpie in Tanzanie 'n ent van die rivier af en die ferry loop net per afspraak. Ek het stories gehoor van voertuie wat tot 'n week by die Mosambiekgrens moes vertoef voor die ferry van Tanzanie af oorgekom het. Ek hoop maar dat hy daar sal wees, anders is die enigste opsie om die bike op 'n makoro, uitgeholde boomstomp, te sit.
Hier is lanklaas 'n voertuig verby. Ek ry stadig en konsentreer fyn op die pad so ek tel 'n hele storie van die dierelewe op. Regs is Olifantmis, ek het baie van hulle spore op die pad gekry. Daar was ook heelwat spore so groot soos 'n luiperd, dis dalk eerder wildehonde, ek het gehoor hier is baie van hulle. Ek het gelukkig net op een plek leeuspore gesien. Ek is nie 'n spoorsnyer nie en as dit nie 'n leeuspoor was nie, was dit in elk geval 'n katspoor so groot soos my hand. Dis wel genoeg om my te laat aan die ry bly.
Ek is opgewonde om te sien hoe verskillend Tanzanie se mense van Mosambiek is. Elke grens is maar 'n tipe van 'n 'Berlynse muur'. Dis 'n kunsmatige skeiding van mense wat oorspronklik maar net bure was. Nou, praat verskillende tale, het verskillende kulture, die een kant het meer geleenthede, die ander kant minder.
Posted by Danie Olivier at 6/19/2006 10:19:00 am 0 comments
Sunday, June 18, 2006
18 Jun Pelma:
Ek het die pad na Pelma onderskat en kom weereens na sononder hier aan. Pelma is eintlik nie 'n dorpie nie, dis meer 'n nedersetting. Hier is basies net 'n kerk; en natuurlik ook 'n bottelstoor. Dis die laaste plekkie voor die Rovuma rivier wat Tanzanie en Mosambiek skei.
Ek was bietjie in die moeilikheid met verblyf en besluit om te hoor of hulle dalk by die kerk vir my tent 'n staanplek kan gee. Daar is net 3 nonne by die Kerk, maar hulle is baie gaaf en verwelkom my. Hulle voer my vol met 'n driegang maaltyd. Casava sop vir voorgereg, bokvleis en reis vir hoofgereg en piesang en koekies vir nagereg. Ek probeer uitvind watter vleis dit is en suster Angela sê net dis 'n 'tipe cabrieto'. Cabrieto is bok (goat). Die wat jy hier kry is bietjie kleiner as boerbokke, en is donker van kleur. Hy is lekker op 'n leë maag...
Ek skat ek het gestink, want suster Angela het dadelik water op die vuur warm gemaak en daarop aangedring dat ek was; was jou hele lyf, beduie sy. Ek voel regtig soos 'n Pelgrim wat hier by 'n verlate klooster skuiling kom vind het. Hulle gooi vir my 'n strooimatjie uit en ek haak my muskietnet aan 'n dakbalk. Ek slaap in 'n binnehof, maar dis lekker want na die noorde kant kan ek sterre sien.
Hieronder is my 3 redders vir die aand, suster Anestacia, Angela en Mary.
Posted by Danie Olivier at 6/18/2006 06:34:00 pm 0 comments
18 Jun Pemba - Pelma:
Noord van Pemba begin dit regtig afgeleë raak.
Dis baie mooi hier. Hier kom definitief nie baie witmense nie. Ek word verstom aangestaar soos ek deur die gebied ry.
As mens na die seunjie in die foto kyk is dit duidelik dat wanvoeding nog 'n groot probleem hier is.
Dit begin ook nou minder tropies raak.
Posted by Danie Olivier at 6/18/2006 05:51:00 pm 0 comments
Friday, June 16, 2006
16 Jun Pemba:
Die son gaan vroeg onder hier. Dit is die mees oostelike dorpie wat Sentraal Afrika tyd (GMT +2) gebruik. In die somer kom die son al 4:15 op en so skuins na 17:00 was dit al stikdonker.
Die paaie in Mosambiek is baie gevaarlik, veral in die nag. Ek het Pemba net na sononder binnegekom en soos ek die dorp binne ry sien ek 'n man wat langs sy seun in die pad sit en huil. Hy is nounet doodgery.
Die rede hoekom hierdie paaie gevaarlik is, is omdat ALLES hierop gebeur. Die besetting van die landelike gebiede is ook redelik eweredig verspreid, so dis soos om deur 'n paar 1000km lang hoofstraat te ry. Maar dis interessant, die pad vertel 'n storie. Dis een lang 7de laan en elke dag is 'n nuwe episode. Jy sien mense met fietse met bokke op. 'n Man wat sy vrou, dogter en babatjie op die fiets lift. 'n Ander een vervoer 'n volgrote deur. Kinders speel draadkar in die pad. Ouma probeer vis verkoop en haar kleindogter waai die vlieë met 'n takkie weg. So gaan dit aan...
Maar as jy wil Kremetartbome op die strand sien is Pemba die plek vir jou!!!
Ek het die foto van die see uit hierdie groot Kremetartboom geneem. Dis nogal vrek moeilik om met motorfietsstewels bo in die boom te kom.
Oppad huistoe skrik ek vir 'n slang in die pad, dit was net genoeg om my konsentrasie te breek en soos Murphy dit wou gehad het voeter ek reg langs die slang neer. (Hy het darem toe al weggeseil.) Dis nogal moeilik om in 'n tweespoorsandpad te ry. As jy nie perfek in hom is nie gooi die sand jou baie.
Hieronder is 'n paar landskap fotos:
Posted by Danie Olivier at 6/16/2006 03:12:00 pm 0 comments
Thursday, June 15, 2006
15 Jun Ilha De Mocambique:
'n Paar eeu gelede was hierdie een van die mees invloedryke eilande op die ooskus van Afrika. Dit was 'n belangrike Moslem handelsentrum lank voor Portugal dit oorgeneem het in 1507. Volgens die legende is die eiland vernoem is na die Arabiese sheikh Moussa Ben Mbiki wat in beheer was toe Da Gama in 1499 hier voet aan wal gesit het. Dis ook dan vanwaar Mosambiek sy naam gekry het.
Toe Nederland dit probeer oorneem het in 1607 was die eerste Europese oorlog in Afrika hier gevoer. Maar die fort wat die Portugese gebou het was te stewig en die Nederlanders moes terugval. Hierdie fort, genaamd Sao Sebastoa, is sekerlik die gebou wat die grootste rol in Oos- en Suider Afrika geskiedenis gespeel het. In 1608 het Nederland dit weer ingeval met 13 skepe en 1840 man. Hulle het die eiland omsingel, maar kon nie die fort binneval nie en moes na 3 maande onttrek.
Was hierdie fort swak gewees, sou Nederland heelwaarskynlik nooit Kaap de Goede Hoop gevestig het nie en sou ons, as Afrikaners, dalk hier in Mosambiek gebly het...
Die foto hieronder is van die fort af geneem en die klein geboutjie aan die regterhand is die Kerk van Nossa Senhora Baluarte. Dit is in 1522 en is vandag die oudste staande Europese gebou in die suidelike halfrond.
Hier is Sao Lourenco, dis 'n klein eilandtjie net suid van Ilha de Mocambique en is amper heeltemaal bedek met 'n fort.
Posted by Danie Olivier at 6/15/2006 09:25:00 am 0 comments
Tuesday, June 13, 2006
13 Jun Nacala:
Ek gaan uit op 'n duik in Nacala en Sarah, ons duikinstrukteur, vertel my dat Nacala die diepste natuurlike hawe in Afrika en tweede diepste in die wêreld is. Sy vertel dat die see hierrond 'n kloof maak wat tot 1km diep is.
Ons het die mooiste korale gesien en ook baie seesterre. Sarah noem dit 'n "galaxy of sea stars". Die rif is relatief vlak, maar dis lekker, want dan kan jy die kleure sien. Jy verloor mos rooi soos jy dieper gaan.
By Bay Diving Lodge ontmoet ek vir Trevor (regs). Hy is besig om 'n 'free style diving' skool hier op te rig. Ek dag by myself, hoeveel mense gaan nou hierna kom om dit te leer. Tot ek uitvind, dis Trevor Hutton, 3 keer 'free style diving' wêreldkampioen. Hy kan sy asem meer as 7 minute ophou en het al, met vinne, tot 83m diep geduik. Met 'n diepte van 66m het hy die wêreldrekord vir die diepste binnelandse duik sonder vinne in Namibie opgestel. Trevor is nou van plan om die wêreldrekord vir die diepste seeduik, sonder vinne, in Nacala op te stel om sodoende sy duikskool op die kaart te sit.
Om dinge in perspektief te plaas, 'n gevorderde scuba duiker mag maar 30m diep duik en op 80m is die drukking op jou bors ongeveer 9 bar. (Voertuig bande word so 2.5bar gepomp.)
Die ouens van Bay Diving Lodge is bevriend met Kingsley Holgate en dit is sy boot aan die regterhand. Hy het hom op die oomblik hier gestoor terwyl hy op ander avonture is.
Vir die wat nie weet nie, Kingsley Holgate is 'n avonturier en die toppie met die baard in die Captain Morgan advertensies.
Posted by Danie Olivier at 6/13/2006 05:07:00 pm 0 comments
Monday, June 12, 2006
12 Jun Nacala:
By Nacala aangekom vind ek uit dat die raam waarop my agterbagasie vasbout gekraak is. Die raam' is aliminium en in hierdie geweste gaan jy dit nie gesweis kry nie. (As jy aliminium swak sweis breek hy net weer langsaan.)
Maar 'n Boer maak 'n plan en so 3 ure later het ek hom goed versterk.
Ek het ook hier my nuwe bande opgesit.
Dis warm en ek is bly my tent is basies een groot muskietnet. Hier is my kampplek en onderaan die strand reg langsaan.
Posted by Danie Olivier at 6/12/2006 04:27:00 pm 0 comments