25/26 Jun Lushoto:
Lushoto is 'n klein dorpie in die Usambara berge so halfpad tussen Dar Es Salaam en Kilimanjaro. Hulle noem dit die Switzerland van Tanzanie. Dis 'n mooi plekkie en die koel weër is 'n welkome verandering van die tropiese kusweër. Jy ry so 35km bergpas uit om hier te kom. Op plekke is dit so smal dat twee voertuie nie verby mekaar sal kan kom nie, maar dis die mooiste paadjie.
Ek ry die eenstraat dorpie binne en die rustige atmosfeer val my op. Ek kan die Europese invloed duidelik hier aanvoel, maar dis definitief nie Engels nie en ek kry nie dadelik my vinger op die styl geplaas nie. Dis eers na 'n hele tyd dat ek van die Duitse invloed onthou en dan kan jy duidelik die Duitse gevoel optel. Die geboue is reghoekig met sulke groot rooibakstene met dik wit sement tussenin. Die rooiteeldakke is swartgrys van die mos.
Ek stap 'n restaurant binne, hy het 'n houtheining wat toegegroei is met roeskleurige Bougainvillea's. Ek ruik die aroma van vars koffie en kruie. Dis koud hier en die restaurant het 'n 'cozy' atmosfeer, dit het nou 'n regte herberg gevoel. Die dowwe geel lig en reuk van paraffienlampe dra by tot die ambiaans.
Sondagoggend lui die klokke van die kerk hoër in die pad op, maar dis nie soos 'n NG kerkklok nie, dit het verskillende grote klokke en is 'n hele musiekspel. Die weër is trietsig, maar ek sit op 'n lekker stoep, drink tee en eet skons. Ek is die enigste buitelander in die dorp.
Tenspyte van die mistige weer vat ek die pad na die Irente uikyk punt. Oppad gaan ek by 'n plaas aan, dit was 'n ou Lutherse sendingstasie. Daar slaan Irene, die vrou hieronder, vir my 'n tuisgemaakte piekniekmandjie aanmekaar. Alles is vars gemaak en organies genoeg om Woolworths skaam te maak.
Toe ek by die uitsig kom is dit toegemis, maar in 'n oogwink het die wolke oopgemaak en die uitsig aan my openbaar.
WOW!!! Dis soos Priderock van Lion King. Ek kan sommer sien hoe Mufasa vir Simba optel en die hele diere koningkryk daaronder, so groot soos miere, hom toejuig. Ek sit op 'n krans met so 600m 'drop' regaf, met so 160 grade uitsig. Voor my is vlaktes oneindig ver. Dit voel of ek op die rant van die aarde sit. Mens spits jou sintuie op die omgewing toe en probeer alles indrink, kompleet asof jy dit kan bêre vir later.
...God het hier 'afgeshow'.
Hier nuttig ek my piekniekmandjie op die uitkykpunt, dit was ongelukkig te mistig vir goeie landskapfotos.
Sunday, June 25, 2006
Posted by Danie Olivier at 6/25/2006 02:03:00 pm
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment