16 Jun Pemba:
Die son gaan vroeg onder hier. Dit is die mees oostelike dorpie wat Sentraal Afrika tyd (GMT +2) gebruik. In die somer kom die son al 4:15 op en so skuins na 17:00 was dit al stikdonker.
Die paaie in Mosambiek is baie gevaarlik, veral in die nag. Ek het Pemba net na sononder binnegekom en soos ek die dorp binne ry sien ek 'n man wat langs sy seun in die pad sit en huil. Hy is nounet doodgery.
Die rede hoekom hierdie paaie gevaarlik is, is omdat ALLES hierop gebeur. Die besetting van die landelike gebiede is ook redelik eweredig verspreid, so dis soos om deur 'n paar 1000km lang hoofstraat te ry. Maar dis interessant, die pad vertel 'n storie. Dis een lang 7de laan en elke dag is 'n nuwe episode. Jy sien mense met fietse met bokke op. 'n Man wat sy vrou, dogter en babatjie op die fiets lift. 'n Ander een vervoer 'n volgrote deur. Kinders speel draadkar in die pad. Ouma probeer vis verkoop en haar kleindogter waai die vlieƫ met 'n takkie weg. So gaan dit aan...
Maar as jy wil Kremetartbome op die strand sien is Pemba die plek vir jou!!!
Ek het die foto van die see uit hierdie groot Kremetartboom geneem. Dis nogal vrek moeilik om met motorfietsstewels bo in die boom te kom.
Oppad huistoe skrik ek vir 'n slang in die pad, dit was net genoeg om my konsentrasie te breek en soos Murphy dit wou gehad het voeter ek reg langs die slang neer. (Hy het darem toe al weggeseil.) Dis nogal moeilik om in 'n tweespoorsandpad te ry. As jy nie perfek in hom is nie gooi die sand jou baie.
Hieronder is 'n paar landskap fotos:
Friday, June 16, 2006
Posted by Danie Olivier at 6/16/2006 03:12:00 pm
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment