Wednesday, June 07, 2006

7 Jun Vilanculos - Gorongosa:
Ek het so 500km vandag gedoen. Daar is baie slegte stukke. Hulle is besig om goeie paaie te bou, om Mosambiek oor so jaar te toer gaan 'n droom wees! Waar die paaie gebou word moet jy op die dienspad langsaan ry. Dis nogal 'n probleem as jy tussen twee haastige trokke opeindig in 'n diepgetrapte tweespoor pad. Jy het geen uitkomplek nie en as jy 'n fout maak is die trok oor jou. Dis regtig vreesaanjaend.

Die pad hier links is waar ek toe 'n uitkomplek gekry het.



Gorongosa is so 80 km Noord van die Inchope. Inchope is op die Mutare - Beira pad. Hierdie pad is 'n gordel wat ontwikkelde van onontwikkelde Mosambiek skei. Met die gedagte dat ek die gordel oorsteek is ek op "high alert". Ek ry32km van koers af om Petrol in te gooi voor ek Noord gaan. Nou is dit jerry kan vol, oë op die pad, ore getuit, neus geblaas..., fokus. As jy hier droog maak is jy in die moeilikheid!

Kyk hierdie gordel is nie net denkbeeldig nie, dis asof jy 'n ander land binne ry. Skielik verstaan amper niemand meer Engels nie. Maar dis lekker, die mense hier is opreg. Hulle bedel nie, maar help omdat hulle regtig wil.

Ek kom by Gorongosa aan net na sononder en soek 'n plek om te kamp. My gids sê niks. Maar my GPS kaart wys 'n pad so 5km van die hoofpad aan. Blinkplan kom ons volg hom! Toe ek die pad vat lyk hy effe klein, dis 'n voetpaadjie, maar die avontuursgees in my sê, "ag kyk hoe lyk dit". Toe die bosse my kanttasse begin raak het, moes ek omgedraai het. Die volgende oomblik vang ek 'n hengse donga teen 45 grade, ek verloor beheer oor die bike en eindig in 'n mielieland op... As ek gerook het, het ek nou 'n skyf 'ge-light'.

Die Man op 'n fiets help my om weer op die pad te kom. Na baie handgebare kry ek sy naam, Pedro. Ek beduie ek soek 'n 'campismo', met 'n ernstige NEE op sy gesig wys hy dat ek nie hierdie pad moet vat nie. Ek moet terug dorp toe.








Daargekom kry ek 'n regte ou Portugese Hotel, Hotel Pousada Azul. Hy het stewige dik mure, kamers weerskante van die blou geverfde gang, met mooi houtreelings op die trappe. 'n Kamer kos M100 000, oftwel R25. Vanaand gaan ek lekker slaap, maar toe ek my kop op die kussing sit hoor ek die eienaardigste geluide. Dit klink soos 'n E-TV riller waarvan die spanningslyn net nie ophou nie. Ek is moeg en raak met dit aan die slaap.


No comments: